April 19, 2021

My miskraam – ’n berg op my skouers

My miskraam – ’n berg op my skouers

My miskraam – ’n berg op my skouers Foto: Facebook

“’n Miskraam gebeur met drie uit elke vier vrouens. Hoekom praat niemand daaroor nie? Vrouens sit alleen met hulle gedagtes en loop met hierdie berg op hulle skouers, vir wat? Ek respekteer die vrouens wat nie daaroor wil of kan praat nie en ek verstaan 100%, maar ek wil hê hulle moet weet hulle nie alleen is nie. We are all in this life together.”

So alleen gevoel tydens miskraam

Carla Loubser beskryf haarself as ’n 30 jarige millennial van die platteland. Sy het in 2018 met haar man, Kenné, getrou. Hulle het ’n 16 maande oue babadogtertjie. Sy het vinnig op TikTok bekend geword as die vrou wat aan ma’s raad gee en oor enigiets kan gesels. Sy het aan die begin van die inperking die app afgelaai omdat sy nog altyd haar struikelblokke in haar lewe aanlyn wou deel, maar het dit nooit reggekry nie.

“Toe ek swanger was met my kleintjie was ek baie alleen by die huis met geen hulp van vriende en familie nie. My man was wel amazing gewees deur al die moeilike maande. Ek het so alleen gevoel, want ek het nie ‘n ervaring gehad met swangerskap nie. Die enigste raad wat ek kon kry was op YouTube en Instagram, maar dit was alles so fake en ek kon glad nie aanklank vind nie.

Sukkel met depressie en angs

As mense haar vra hoekom sy, op die ouderdom van 30, iets soos TikTok begin het, sê sy: “Ek sal sê ek wil die stigma van Instagram en al die “perfekte” verhale van moederskap, swangerskap, huwelik en die lewe breek. Die lewe is nie so perfek soos wat mens op Instagram en YouTube sien nie en baie min mense deel hulle regte lewe aanlyn. Ek sukkel ook met angs en depressie en mens sien nooit iemand wat net blatant oor die goed praat nie. Ek wil net struikelblokke in die lewe normaliseer sodat ma’s en vrouens minder alleen kan voel.”

Loubser glimlag op elke liewe TikTok-video, maar onlangs het haar lewe vinnig verander. Sy het besluit om haar ervaring met ander ma’s te deel, self haar storie op die app te vertel. Maar hoekom so iets met die wêreld deel?

Hoekom moet ‘n vrou voel dat sy dit ‘n geheim moet hou?

Carla Loubser

“Ons het onlangs ‘n swangerskap verloor en om eerlik te wees, het ons nie regtig geweet hoe om dit te hanteer nie. Mens kan nie iemand daarop voorberei nie. Dis hoekom ek besluit het om dit te deel, want dit het my ongelooflik baie gehelp om dit te verbaliseer en om te sien dat só baie vrouens daardeur gaan. Ek het net gedink – hoekom moet ‘n vrou voel dat sy dit ‘n geheim moet hou?  Dis aaklig dat ons as vrouens so stil en alleen deur sulke aaklige goed moet gaan en ek is so bly dat ek dit gedeel het. Ek het so baie vrouens die platform gegee om veilig en gemaklik hulle stories met my en mekaar te deel. So kon hulle ook vrede vind.”

Loubser sê dit voel asof sadness haar heeltyd volg. Sy sê sy weet sy sal 100% herstel, maar sy dink nie sy en haar man sal 100% kan aanbeweeg nie. “Mens wonder maar altyd – is dit iets wat ek gedoen het? Al weet ek wat die antwoord is. As ’n ouer is mens se grootste verantwoordelikheid om jou kinders op te pas, so dit maak seer om te dink ek kon dit nie vir die kleintjie doen nie. Maar ons sal hom of haar eendag ontmoet, weet en glo ek. Vir nou klou ons aan ons baba hier op aarde en waardeer die lewe wat ons wel het.”

Die “ou Carla” word gegroet

Loubser lag nou deesdae as sy die stories van haar nuwe platinumblonde hare vertel. Sy was eers ’n donkerkop, maar het gevoel die “ou Carla” moet gegroet word. “Die transformation het my wonders gedoen. Ek voel soos ‘n nuwe mens. Iets so klein soos dit kan ‘n groot verskil aan mens se mental health maak.”

“Jy is nie alleen nie. Jy doen die beste wat jy kan, en jy is goed genoeg,” is raad wat Loubser graag aan elke ma wil gee.

LEES OOK: Hector heel oukei, sê eienaar na video oor beweerde dieremishandeling

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: