April 19, 2021

Verkeerde onderdele lei tot lewenslange liefde

“Sy wou niks weet van my nie. Sy wou nie haar telefoonnommer of adres vir my gee nie.”

Verkeerde onderdele lei tot lewenslange liefde

Verkeerde onderdele lei tot lewenslange liefde Foto: Verskaf

Almal ken vir Appa en Steph van Wyk, bekende eienaars van JellyTots kleutersentrum en nasorg in Kimberley. Hier vertel Appa vir FiND iT hulle liefdesverhaal en hoe dié blonde meisie eers niks met hom te doen wou hê nie.

Toe hy haar sien, het hy geweet

Appa (47) sê hy het vir Steph (40) vir die eerste keer in 1994 by Wimpy raakgesien.

“Ek en my neef het by Wimpy iets gaan drink toe drie sussies by ons tafel verbyloop. Ek het op die plaas geleer as jy wil weet of ’n dier reg is, moet jy hom van agter af kyk. My neef het my gevra wat ek kyk en ek het vir hom gesê: ‘Sien jy daai meisie? Ek gaan eendag met haar trou.’”

Meisie begin soek

Appa vertel hy het in Worcester gaan werk en later van tyd teruggekom Kimberley toe. Hy het die blonde meisie begin soek, maar dit het hom vier jaar geneem voordat hy haar eers weer vir die eerste keer kon sien.

“Daar het baie goed intussen op my pad gekom en die soektog na haar was nie altyd volmaak nie. Daar was baie bier, baie pool tafels, baie vriende en selfs vir ’n ruk ’n verloofde betrokke.”

LEES OOK: Baba in kop geskiet tydens jaagtog na verdagte

“In 1998 het ek besigheid gedoen met ’n ou op Christiana wat die naweek deurgekom het Kimberley toe. Hy het my voorgestel aan sy gesin en saam met hom was sy skoonsussie, die meisie met die lang blonde hare.”

“Sy wou niks weet van my nie. Sy wou nie haar telefoonnommer of adres vir my gee nie. Die ou wou ook nie haar telefoonnommer vir my gee nie, want hy het gesê sy skoonpa sal hom vrek maak.”

“My kanse het in daardie stadium maar power gelyk.”

Verkeerde onderdele

“Haar pa het later van tyd onderdele by my gekoop, maar ek het vir hom die verkeerde onderdele gegee. Ek het die aand die regte onderdele saam met my huis toe geneem. Toe sy my later die aand bel om te sê die onderdele is verkeerd, het ek gesê dit is nie ’n probleem nie en sy moet net haar adres vir my gee sodat ek die regte onderdele kan gaan aflaai.”

 “Daarna was dit ‘n knaende gesmekery om haar te kry om saam met my te gaan koffie drink. Sy het na ’n ruk ingegee en saam met my gaan koffie drink.”

“Dit was die begin van ons liefdesverhaal en die begin van die res van ons lewe.”

Saam ingetrek

In 1999 het hulle besluit om saam in te trek. Beide kante van hulle families was nie baie beïndruk daarmee nie.

“Ons het vasgebyt en is op 10 Desember 2005 getroud. Ons is toe geseën met ’n honeymoon-baba. Klein Appatjie (14) is in 2006 gebore.”

Seer in die huwelik

Appa vertel die drietjies was ’n baie gelukkige gesin, maar die paartjie het ’n miskraam gehad.

“Dit is nie iets waaroor ons eintlik praat nie. Al wat ek kan sê is, ek haal my hoed vir my vrou af. Daar het ek gesien hoe sterk sy werklik kan wees. Sy wou daarna glad nie nog kinders hê nie.”

Nuwe baba

Na lang gesprekke het die paartjie besluit om vir drie maande te probeer vir nog ’n baba, maar niks het gebeur nie en Steph het weer voorbehoeding begin gebruik.
“Die Here het net besluit Hy sal vir ons wys. Hy het ons geseën met ’n babadogtertjie, al was my vrou op voorbehoeding. Qhara (10) is in 2010 gebore.”

Deur stormwaters

Die paartjie, wat al 16 jaar getroud is, is al deur baie diep water. Appa het in ’n stadium sy besigheid verloor en Steph moes die pot aan die kook hou.

LEES OOK: Polisie soek verdagte wat kind van fiets af ry

Geseën

Appa sê terwyl hulle self gesukkel het, het hulle ’n besluit geneem om ’n paartjie te help en verniet na hulle kinders te kyk.

“Die Here het ons so geseën. Binne ’n week het die kinders by ons sentrum verdubbel. Die fone het aanhou lui. Mense het voor ons sentrum gestop, sonder om uit te klim en net besluit om hulle kinders in te skryf. Ons kon nie voorbly nie.”

Appa en Steph bedryf nou voltyds hulle sentrum.

“My vrou is my alles. Sy hou my op die regte pad. Ek kan nie my lewe sonder haar indink nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: