Het jy geweet 90% van kankersoorte word deur leefstyl en omgewingsfaktore beïnvloed? Een kankersoort wat geen uitsondering is nie, is nierkanker. Dis daarom belangrik vir Suid-Afrikaners om hulle gewoontes te verbeter en ook ingelig te bly oor die risikofaktore om die kanse om die siekte op te doen, te verminder.
Vandag is Wêreld-nierdag
Vandag is Wêreld-nierdag en dr. Bha Ndungane-Tlakula, mediese direkteur by Pfizer Suid-Afrika, verduidelik hier in detail hoe die simptome van nierkanker lyk en hoe jy die risiko om dit op te doen, kan verminder.
Wie is in die hoërisikogroep om nierkanker te kry?
“Nierkanker kom byna twee keer soveel in mans voor as in vrouens. Diegene wat ouer as 50 jaar oud is, diegene wat oorgewig is, hoë bloeddruk het of aan rook blootgestel word, staan ook ’n groter kans om nierkanker op te doen.”
Lees ook: My stryd teen kanker – ’n tweede keer
Leefstylveranderinge
“Daar is baie leefstylveranderinge wat jy kan aanbring om jou kans op nierkanker te verminder. As jy rook, verdubbel dit jou kanse om nierkanker op te doen. Hoë bloeddruk of hipertensie kan ook bydra tot die kanker. Dit plaas dus die klem op ’n gesonde, gebalanseerde dieet vol groente en vrugte.”
Waarna om op te let
“Simptome van nierkanker kan insluit bloed in die uriene, pyn in die lae rug, gewigsverlies, verlies van eetlus, moegheid of bloedarmoede.”
Wat om te doen
“Suid-Afrikaners moet pro-aktief raak as dit by hulle gesondheid kom. As jy enige simptome ervaar of ’n geskiedenis van nierkanker in die familie het, kontak jou dokter om vroeë diagnose te verseker.”
Lees ook: Meisie (15) skiet verkragter dood terwyl hy haar verkrag



