SUID-AFRIKA. – Alles het begin toe klein Chereez (4) begin kla het oor pyn in haar wang. Haar ouers het ‘n swelling in haar regterwang gesien en besluit om haar dadelik dokter toe te neem.
CT-skandering
“Die dokter het haar ondersoek en ‘n gaatjie in haar oor gesien. Daarna het hy ‘n ander dokter gekontak en besluit dat sy waarskynlik water in haar oor gekry het en dit het ‘n infeksie veroorsaak. Sy het daarna ‘n kursus van ses weke met sterk antibiotika gekry,” vertel Angelique Nel, Chereez se ma.
Angelique vertel verder nadat die antibiotikakursus klaar was, het die swelling steeds voortgeduur. Hulle het haar daarna na ‘n oor-, neus- en keelspesialis geneem. Dr. Khan van die Sunward Park-hospitaal was ook nie seker wat die rede vir die swelling kon wees nie en het besluit om Chereez liewer vir ‘n CT-skandering te stuur.
“Die resultate van die CT-skandering het teruggekom en dit is toe dat ons lewens onderstebo gegooi word …”
Klein Chereez se lewe verander
Die dokter het vir haar en haar man, Pieter, gesê Chereez het ‘n gewas langs haar brein. ’n Biopsie van die gewas is onmiddellik gedoen en dit is gevolg deur nog slegte nuus.
“Behalwe dat dit kanker is, het hy ook bygevoeg dit is ’n aggressiewe kanker wat vinnig van haar kop na haar gesig kan versprei.”
Hulle is daarna verwys na dr. Kate Bennett van die Donald Gordon-mediese sentrum waar hulle spesialiseer in kanker. Chereez is daar met ‘n gedifferensieerde sagteweefselsarkoomkanker gediagnoseer wat reeds in stadium drie was.
Begin met chemo
Suid-Afrikaanse laboratoriums kan nie die tipe sarkoomkanker wat Chereez het, identifiseer nie en hulle moes ook ‘n stukkie van die weefsel vir ‘n biopsie na Switserland wegstuur.
“Cheerez moes ‘n klomp MRI-, beenmurg- en CT-skanderings ondergaan. Ons was verlig die dag toe hulle bevestig die kanker het nie na die res van haar liggaam versprei nie.”
Chereez het daarna vir ‘n klein operasie gegaan waar hulle die chemoterapie-stent ingevoeg het, sodat sy daardeur chemo kon ontvang. Daarna kon die chemo begin. Sy het met 10 weke van chemobehandeling begin. Daarna het sy ’n operasie ondergaan om die gewas te verwyder. Na die operasie het Chereez bestraling ontvang en daarna nog ses maande se chemo.
Kanker het die skedel binnegedring
Net toe ons dink dinge begin beter word, het ons die uitslae van nog ’n MRI-skandering gekry. Hulle is in kennis gestel dat die kanker die skedel binnegedring het.
“Chereez se voorval is aan die Morningside Head and Neck Tumour Board voorgelê. Die direksie het besluit om nie voort te gaan met ‘n operasie nie, want dit is ‘n ingewikkelde operasie met baie komplikasies. Hulle sou die gewas nie heeltemal kon verwyder nie weens die betrokkenheid van die skedelbasis. Chirurgie vereis ook dat die kakebeen in twee gesplit word om alles te verwyder. ‘n Stuk been sou uit haar been verwyder word en met ’n plaat by haar kakebeen inplant word. Die besluit is toe geneem om liewer voort te gaan met chemo en om met bestraling te begin.”
Twee soorte terapieë vir Cheerez
Angelique vertel daar is twee soorte bestralingsterapie wat Chereez kon ontvang. Die eerste terapie word IMRT-terapie genoem en die tweede terapie is protonterapie. Albei hierdie terapieë het newe-effekte wat visuele probleme, groeivertraging, gehoorverlies en meer insluit. Die grootste verskil tussen die twee terapieë is dat protonterapie meer van die gesonde weefsels spaar en die newe-effekte wat veral jong kinders sal ervaar, beperk.

Die kans dat Chereez in die toekoms ‘n heropbou-operasie aan haar gesig sal benodig, word ook verminder as sy vinnig protonterapie sou ontvang. Chereez was slegs vier jaar oud en dus was die risiko vir newe-effekte baie groot.
“Protonterapie is ongelukkig slegs beskikbaar in die VSA en kos min of meer $ 200 000 en $ 300 000. Dit sluit alle verblyf- en reiskoste in.
Ons sal alles vir haar doen.
sê Angelique
Die dokter het ook aan haar ouers verduidelik dat kinders met ongedifferensieerde sarkoom wat terapie ondergaan, ‘n 50% kans op oorlewing het. Cheerez se ouers het dus die besluit geneem om haar vir protonterapie te neem. “So is die newe-effekte en die impak wat die bestraling op die klein Chereez se lewe het, verminder.”
“Ons sal alles doen om Chereez die beste behandeling te bied wat die wêreld het en ‘n beter kans op ‘n volle en normale lewe te gee,” het Angelique gesê.
Iemand het die familie deur Chereez se Facebook-bladsy genader en aangebied om die uitstaande bedrag van R3,1 miljoen aan hulle te leen. Die voorwaarde is dat hulle dit met lopende fondsinsamelings en donasies terugbetaal.

Goeie nuus vir die familie en Chereez
“Ons VSA-reis is moontlik gemaak op 31 Augustus 2018 en Chereez het die voorreg gehad om twee maande behandeling te kry. Ses weke nadat ons teruggekeer het na Suid-Afrika, is die toets gedoen en ons het die beste nuus ooit gekry… Op 13 Desember 2018 was sy kankervry! Sy het wel onderhoudschemo vir die volgende ses maande gekry. Addisionele toetse moes uitgevoer word en dokters sal haar fyn dophou vir enige afwykings vir die volgende 20 jaar.”
“Alhoewel Chereez se verhaal in hierdie stadium positief is, moet ons gesin steeds R1,9 m terugbetaal aan die skenker wat die VSA-reis en behandeling moontlik gemaak het,” sê Angelique.
LEES OOK: Kleuter sluk battery in, sterf
Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.





