BLOEMFONTEIN. – Kiara, die hondjie wat gered is na sy deur ’n groep kinders gemartel is, het nou ’n nuwe huis.
Haar nuwe eienaars, Louis en Marlise Radley, het haar Saterdag by die Dierebeskermingsvereniging gaan haal.
FiND iT het voorheen berig Kiara se lyfie was so beseer dat die DBV se inspekteur gesê het dis ondenkbaar dat sy nog leef na die marteling wat sy moes beleef.
“Sy het gesien hoe die kinders die hond rondsleep en skop. Sy het vir die kinders gesê om op te hou, maar hulle het net vir haar gelag,” sê die DBV van die vrou wat hulle oor die marteling gebel het.
“Nes die hondjie weer haarself kon oplig, is sy soos ’n sokkerbal deur die lug geskop,” het die vrou vertel. “Hoe meer ek vir hulle geroep het om op te hou, hoe meer het hulle die hond gemartel. Hulle het selfs ’n stok in haar keel probeer afdruk.”
Lees ook: Harry: ‘Ek het nooit besef ek was ‘n gevangene nie’
Toe Kiara na ’n rukkie leweloos gelê het, het die kinders haar, soos vullis, in die asdrom gegooi.
Kiara moes intussen ’n operasie ondergaan en een van haar bene is geamputeer.
“Drie bene, maar ’n hart om daarvoor op te maak,” lui die DBV se inskrywing op Facebook.



