HARTSWATER. – Kgomotsoe (Sylvia) Mpumlwana, ’n beskudigde in die driedubbele moordsaak van Danie, Breggie en Elzabie Brand, is gister in die Hartswater-landdroshof geweier.
Tweede poging vir borg
Die borgtogverhoor was Mpumlwana se tweede poging om uit die tronk vrygelaat te word. Haar gronde vir borgtog, onder meer dat sy na haar 21-jarige gestremde seun moet omsien, dat vee en meubels uit haar huis gesteel is terwyl sy in die tronk was, en dat sy ’n mediese toestand het waarvoor sy nie behandeling ontvang het nie, is van die hand gewys.
LEES OOK: Man spring in brandende voertuig – red petrolstasie
Grusaam vermoor
Danie Brand (83), sy vrou Breggie (73) en hulle dogter, Elzabie (54), is verlede jaar ontvoer en grusaam vermoor. Die gesin is op 26 Julie tydens ‘n plaasaanval ontvoer en hulle liggame is in die bosse by die Takaneng Village gevind. Die Hartswater-plaasmoord het landswyd opspraak gewek en die boeregemeenskap het opslae gemaak deur met trekkers na die landdroshof op te ruk.
Lees die vorige berig hier: Hartswater-plaasmoord: Brand-moordsaak sloer
DA is verlig
Annette van Wyk, DA-raadslid, sê die Demokratiese Alliansie (DA) is verlig dat Mpumlwana in die tronk sal bly.
“Die plaaslike inwoners leef in vrees vandat die gruwelike aanval op die Brand-familie verlede jaar plaasgevind het. Die DA hoop dat die verhoor nou aan die gang kan kom en dat uitstaande DNS-monsters nie langer die verrigtinge sal laat sloer nie. In ons eie pogings om te help met die bekamping van plaasaanvalle en om aanvallers agter tralies te plaas, sal die DA se hofmoniteringseenheid voortgaan om hierdie saak deeglik te monitor.”
Saak gaan voort
Die saak word op 25 Maart hervat, wanneer Mpumlwana saam met haar vier medebeskuldigdes moet verskyn.



