Ouma (105) sê ginrosyntjies het haar van Covid-19 gered

Deel hierdie storie / Share this story

NEW JERSEY. – Lucia DeClerck, wat op haar 105ste verjaarsdag positief getoets het vir Covid-19 en dit oorleef het, sê dis alles aan gindeurdrenkte rosyntjies te danke.

DeClerck, wat in ‘n tehuis in New Jersey woon, is ‘n dag na sy haar tweede inenting teen die virus ontvang het, positief getoets.

“Maak ‘n fles vol (gin),” verduidelik sy. “Na die rosyntjies vir nege dae gestaan het, eet jy nege per dag.”

Haar antwoord op die resep vir ‘n lang lewe, is: “Bid, bid, bid. Een treë op ‘n slag. Geen gemorskos.”

Lees ook: My stryd teen kanker – ‘n tweede keer

Aan die begin was sy bang. Sy het nie daarvan gehou om geïsoleer te bly nie en sy het verlang na die gekuier met haar versorgers.

Sy het ‘n paar van die simptome getoon, maar binne twee weke was sy weer terug in haar kamer met haar bekende sonbril en gebreide hoed, sê Michael Neiman, die tehuis se administrateur.

Haar kinders onthou dié rosyntjiegewoonte as iets wat sy al vir die grootste gedeelte van haar lewe doen. Sy het glo ook aalwynsap uit die bottel gedrink en haar tande met koeksoda geborsel.

“Ons sou altyd dink: ‘Ouma, wat máák jy? Jy’s laf,” sê Shawn Laws, DeClerck se 53-jarige kleindogter. “Nou is dit sy wat laaste lag. Sy het alles wat na haar kant toe gekom het, oorwin.”

Lees ook: Pa vernoor seuns (3 en 4) en toe homself

Bron: People.com