Die persombudsman het bevind die Landbouweekblad, wat in September verlede jaar ‘n artikel met die opskrif ‘Cele: Boere moenie kla as hulle seerkry nie’, gepubliseer het, onverantwoordelik en nalatig was.
Dit volg ná polisieminister Bheki Cele die boeregemeenskap van Normandien in September gaan toespreek het. “Die artikel het berig dat die polisieminister Cele gesê het boere moenie kla as hulle seerkry nie,” sê Lirandzu Themba, woordvoerder vir Cele. “Terwyl hy egter volhou dat hy in geen stadium so ‘n onverantwoordelike uitlating sou maak terwyl hy besig was om saam met die boere oplossings vir plaasmoorde te soek nie.”
Lees ook: Pfizer-entstof werk dalk nié as jy vet is
Cele het volgens Themba die persombudsman genader en dié het intussen bevind dat die joernaliste en die koerant se redaksiespan nalatig en onverantwoordelik was om iets in ‘n artikel te skryf wat nie gebeur het nie.
Die joernaliste wat die berig geskryf het, was glo nie by die byeenkoms in Normandien nie en het die berig op hoorsê geskryf.
“Dis belangrik dat die media besef hoeveel hy kan vernietig as hy nie sy werk deeglik doen nie,” sê Cele. “Hierdie tipe beriggewing het verdere geweld by die boeregemeenskap aangewakker en moet as ‘n belangrike les gesien word.”
“Geen joernalis kan ooit hoorsê gebruik om die feite mee te vervang nie. Dis gevaarlik en onverantwoordelik.”



