Vol moed ná kilogramme terugkruip

Deel hierdie storie / Share this story

Janja Wills (34) met wie ons in 2020 gesels het oor haar gewigsverlies van 100 kg, bly vol hoop ná sy vir ‘n tydperk van die bus afgeval het.

Lees die vorige berig hier.

Sy vertel hoe sy nie sal toelaat dat die paar ekstra kilogram haar onderkry nie. “Ek voel dit moes met my gebeur. Ek moes van die wa af val sodat ek ander wat in dieselfde bootjie is, kan help.”

Janja het vier jaar en vier maande gelede besluit om haar lewe te verander. Sy vertel hoe sy oudergewoonte op die bank gesit en brood eet het. “Dit het skielik gevoel asof ek ’n hartaanval kry. Dit het my net getref: Ek het ’n omkeerpunt in my lewe bereik.”

Sy glo nié aan dieetpille, diëte of aanvullings nie en het deur bloot “aktief te raak” ’n volle 100 kg afgeskud. Die enigste ding wat Janja ná haar gewigsverlies nog teruggehou het, is die ekstra vel wat sy het. Sy het begin met fondsinsamelings om die astronomiese bedrag vir die operasie om die velle te verwyder, bymekaar te maak, maar sy sê sy het gesukkel.

“Ek moet bieg, die feit dat ek begin moed verloor het omdat ek nie regtig kon geld insamel vir my operasie nie, was die grootste rede vir my terugslag. Dit én Covid-19 het my spoed ‘n bietjie gebreek.”

Maar ná byna ‘n jaar is sy egter weer volspoed besig om haar droom na te jaag. “My droom was en is nog steeds om SA se nommer een fiksheidsmodel te word. Ek is bly dat ek die terugslag gehad het, want nou kan ek ander motiveer om nooit moed op te gee nie.”

Wills het ook ‘n Facebook-blad waarop sy ander motiveer deur haar verhaal te vertel.

As jy ‘n donasie wil maak om Wills te help om haar operasie te kan ondergaan:

Capitec
Spaarrekening
1722466551