Werkloosheidsyfer styg steeds

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA. – Suid-Afrika se werkloosheidsyfer styg steeds.

Die werkloosheidskoers is tans 32,5%. Dit is die hoogste sedert Statistiek SA in 2008 met sy kwartaallikse werksmagopname begin het.

Nuwe rekord-laagtepunte wat werkloosheid aanbetref, word nou kwartaal na kwartaal aangeteken. Covid-19 het ook nie gehelp nie.

Werkloosheidsyfer styg einde 2020

Die werkloosheidskoers het tussen die derde en vierde kwartale van 2020 met 1,7% toegeneem.

LEES OOK: MOENIE JOU KIND KIELIE NIE

Heloïse Denner, VP+ LP, sê Covid-19 kan nie ten volle die skuld vir dié skokkende syfer gegee word nie.

Die styging van die uitgebreide werkloosheidsyfer met 0,5% tot 42,6% van ontmoedigde werksoekers en ander wat weens die inperking nie werk gesoek het nie, kan wel aan die stelselmatige opheffing van die inperkingsregulasies toegeskryf word.

Baie mense kan nou weer werk en begin om werk te soek.

“Wat egter uiters kommerwekkend is van hierdie werkloosheidsyfer, is dat die aantal ontmoedigde werksoekers in die land volgens SSA met sowat 235 000 toegeneem het.

“Hierdie mense is nou afhanklik van die staat en baie maak staat op die maatskaplike verligtingstoelae van R350 van die departement van maatskaplike ontwikkeling.  Hierdie toelaag het ‘n beperkte leeftyd en is onvolhoubaar,” sê Denner.

“Suid-Afrika het ‘n welsynstaat geword waar meer mense van maatskaplike toelae afhanklik is wat daar mense is wat werk.  Dit is ‘n onvolhoubare situasie wat tot verskeie ander sosio-ekonomiese probleme soos armoede, misdaad en druk op die gesondheidsorgstelsel sal lei.”

Aanpassing van minimumloon

Werkloosheid in Suid-Afrika sal waarskynlik kwartaal op kwartaal in 2021 verder toeneem weens verskeie faktore, waaronder die aanpassing van die nasionale minimumloon vir plaas- en huiswerkers, asook die regering se behandeling van privaatsektor-werkgewers.

Die verhoging van die nasionale minimumloon vir plaaswerkers van sowat 16% en huiswerkers van sowat 23%, sal onafwendbaar tot verdere werksverliese lei.

Nog afleggings kom

Baie werkgewers van veral huiswerkers, is self werknemers wat gebuk gaan onder verkorte werkure en afleggings weens die pandemie en die swak stand van die ekonomie.

Landbouwerkgewers sal nie noodwendig ‘n onmiddellike verhoging van 16% in hul salarisrekeninge kan bekostig nie en sal noodgedwonge ook afleggings moet doen.

LEES OOK: MANS MET OLIFANTTANDE GEKRY

Dit is nie nou die tyd vir politiekery met die oog op die komende plaaslike regeringsverkiesing nie.  Dit is tyd om die ekonomie en werkskepping te stimuleer.