February 25, 2021

DA verwelkom vloedrampverklaring, sê die provinsiale leier

“Die DA doen ‘n beroep op alle regeringstrukture om te verseker dat hulle uit vorige foute wat gedurende die implementering van rampfinansiering gemaak is, leer.“

Die Demokratiese Alliansie (DA) verwelkom die klassifisering van die onlangse vloedskade in die Noord-Kaap, wat deur uiterste weersomstandighede in die land veroorsaak is, as deel van ’n nasionale ramp, soos op 12 Februarie 2021 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Dit is volgens Harold McGluwa, LPW, DA Noord-Kaapse provinsiale leier.

DA verwelkom provinsiale ramp

McGluwa sê hulle aanvanklike pleidooi vir die verklaring van ‘n provinsiale ramp was gebaseer op die vernietiging van landbougrond, paaie, brûe en ander infrastruktuur, wat gemeenskappe van die res van die wêreld afgesny het.

“Terwyl stap een nou afgehandel is, hoop ons dat die minister van finansies, Tito Mboweni, ’n voldoende bedrag noodbefondsing aan die Noord-Kaap sal toeken wanneer hy volgende week sy begrotingsrede lewer. Mense sukkel al genoeg weens die koronavirus en die verlammende impak hiervan. Hulle moet die geleentheid gegun word om terug te keer skool en werk toe.

Die koronavirus-rampfinansiering

“Die DA doen ’n beroep op alle regeringstrukture om te verseker dat hulle uit vorige foute wat gedurende die implementering van rampfinansiering gemaak is, leer. Afgesien van die korrupsie wat die koronavirus-rampfinansiering verswelg het, was daar ook wanbestuur van toekennings met betrekking tot die onlangse droogtehulpbefondsing en die vloedbefondsing van 2011.

“Die gebruik van implementeringsagente, aansoekprosesse wat swak bestuur is en selfs rasgebaseerde goedkeuringskriteria vir befondsing van noodhulp, het nie net verkwistende en onreëlmatige uitgawes tot gevolg gehad nie. Mense wat dringend verligting nodig gehad het, is oor die hoof gesien.

DA vra wetgewer vir toesig oor uitgawes

“Die DA sal die wetgewer vra om deurlopende toesig oor uitgawes vir vloedhulp te prioritiseer, bo en behalwe die huidige monitering van koronavirus-verwante uitgawes.

“Die regering het die geleentheid om iets goeds vir die inwoners van die Noord-Kaap te doen. Elke sent moet tel.”

*mediaverklaring

LEES OOK: Misdaadstatistieke bekendgemaak, Inanda teken 83 verkragtings aan

Volg FiND iT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: