Suksesvolle aanneming: Bella baljaar in water, boerboele soek steeds huis

“Indien hulle na aparte huise moet gaan sal ons vrede daarmee maak.”

KIMBERLEY. – “Dit was ’n suksesvolle aanneming, Bella het ’n nuwe huis gekry. Sy is aangeneem deur ’n gesin in Kimberley.
Sy het ’n Golden Retriever-boetie bygekry. Sy is mal oor water en het sommer dadelik tuis gevoel. Sy swem nou soos ’n meermin in die swembad,” lag Sunette Niemann, wat ’n huis vir familievriende se liefdevolle viervoetkinders help soek.

FiND iT het vroeer berig die familie van Hatswater verhuis na die buiteland en as gevolg van finansiële redes kan die gesin nie hulle diere saamneem nie. “Aanvanklik sou die diere reeds laas naweek Dierebeskermsvereniging toe gaan, maar ons het gelukkig uitstel gekry en kan vir nog twee weke huise soek.”

Suksesvolle aanneming vir Bella

Bella, die driejarige labrador, het vinnig ’n huis by mense in Kimberley gekry. Volgens Niemann het sy vinnig aangepas en word binnekort gesteriliseer.

Niemann is nog dringend op soek na huise vir die twee boerboele. Die twee boerboele is reuntjies en onderskeidelik drie en ses jaar oud. “Indien hulle na aparte huise moet gaan, sal ons vrede daarmee maak. Ek wil net nie hê hulle moet DBV toe gaan nie,” sê Niemann, heel bekommerd oor dié honde.

Foto: Bruno – Omtrent ses jaar oud. Baie lief vir kinders en kom goed oor die weg met ander honde wanneer hy hulle gewoond is. Baie mooi persoonlikheid.
Foto: Boika – Drie jaar oud. Hy is baie beskermend oor sy eienaar en sy erf. Mal oor kinders en baie liefdevol en lojaal.

Indien jy vir een van hierdie honde ’n nuwe huis wil gee, skakel Sunette Niemann by 0726865663.

LEES OOK: ‘Mense moet doen wat hulle kan om kop bo water te hou’

Volg FiND it hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: