WES-KAAP. – ’n Brand het op Saterdag 31 Oktober om 18:00 aan die onderste hange van Tafelberg uitgebreek.
Volgens Cape Town Etc is die brand deur sterk winde aangejaag en brandbestryders moes deur die nag sukkel om die vlamme onder beheer te kry. Een brandweerman is tydens die brand beseer en is na ‘n hospitaal vir behandeling geneem.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die brandweer- en reddingsdiens van Stad Kaapstad, het gesê daar was geen verdere beserings nie. Daar is aangeraai dat ’n paar huise ontruim word, maar van die inwoners het agtergebly. Hy sê daar was geen skade aan enige eiendom nie, slegs een hut is beskadig.
Carelse sê hulle het aansienlik afgeskaal van meer as 20 brandbestrydingstoestelle en 100 personeellede tot byna die helfte. Beamptes is steeds op die toneel om toe te sien dat die brand nie weer op sekere plekke opvlam nie.
Die wind het vanoggend bedaar en die brand is om 04:40 geblus.



