“Sy kry self swaar, maar sy is altyd so nederig, vrygewig en mededeelsaam. Gaan iemand ooit haar hart raaksien?”
Ethnie de Wit (81), ’n inwoner by Huis Goedversorg op Boshof en ook ’n bekende gesig op dié dorpie, het besluit om self ook ’n bydrae te maak vir die boere in die omgewing wat onder brande deurgeloop het.
“Sy het aanvanklik voor my tafel kom staan en die twee koekies seep en ’n klein buisie tandepasta op my tafel neergesit,” sê Petro de Kock, bestuurder van die bejaardesorgsentrum.
“Ek kon nie dadelik daaraan aandag gee nie en toe ek later op my tafel gaan kyk, was die goedjies nie meer daar nie. Ek het haar toe gaan soek en dis toe dat ek haar in die kamer kry by haar wit teddie. Sy het met die goedjies in haar hande gesit en met my geraas oor sy so gesukkel het om my in die hande te kry. Dit was te kostelik.”
De Wit is die afgelope 35 jaar al op Boshof, waar sy by Diens van Barmhartigheid gehelp het voor sy ’n inwoner by Huis Goedversorg geraak het.
“Sy is altyd so dankbaar. Sy gee altyd. Sy het nou onlangs selfs haar margarien en konfyt met ’n ander tannie gedeel, omdat sy geglo het die tannie het nie gekry nie.”
Verskeie instansies is besig met insamelings vir boere wat groot verliese in die brande gely het.



