SENEKAL. – Sekola Matlaletsa (44), een van die verdagtes in die Brendin Horner-moordsaak, is vandag op borg vrygelaat.
Matlaletsa is borg van R5000 in die Senekal-landdroshof toegestaan.
Sekwetje Mahlamba (32), die tweede verdagte in dié saak, se borg is nie toegestaan nie.
Beide Mahlamba en Matlaletsa pleit onskuldig op aanklagte van moord en roof.
Horner se lyk is op 2 Oktober op ‘n plaas naby Senekal gevind. Sy liggaam was aan ‘n paal vasgemaak. ‘n Mes is op die toneel gekry. Horner se bakkie is later met bloedvlekke op naby Duikfontein-plaas op Paul Roux opgespoor.
Die saak is tot 1 Desember uitgestel.



