‘n Boer en sy vrou is vanoggend ongeveer 07:00 op hulle plaas, Yaxham, in die Vrystaat vermoedelik deur vyf verdagtes aangeval.
Michael Bezuidenhout, van Oorgrens Veiligheid, sê die slagoffers het daarin geslaag om terug te baklei en alhoewel die slagoffers nie seergekry het nie, is twee van die aanvallers noodlottig beseer.
Kol. Thani Mbambo, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, sê ‘n man wat op pad na die plaas was, het ‘n groep van vyf mans na die plaas se rigting sien naderkom, berig Maroela Media.
Een van die aanvallers het ‘n vuurwapen op die man gerig en hom tot in die huis gedwing waar twee kinders en hulle ouma reeds met ‘n mes gedreig is.
Een van die twee beseerde aanvallers is na ‘n hospitaal geneem ná daar ‘n skietery tussen die aanvallers en die huiseienaar (71) plaasgevind het. Een van die verdagtes is gearresteer. ‘n Ander verdagte is later in die omgewing aangekeer en ‘n selfoon wat tydens die aanval gesteel is, is later in sy besit gevind.
Die inligting wat tot beskikking is, dui daarop dat al die aanvallers te voet op die plaas was, sê Bezuidenhout.



