CALVINIA – Twee manlike verdagtes is in hegtenis geneem na die polisie ‘n verdagte bakkie gestop en deursoek het. Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het R550 000 se onwettige sigarette gevind.
Volgens brig. Ramatseba was lede van die Calvinia-polisie Donderdag op patrollie toe hulle ‘n verdagte bakkie met twee insittendes gewaar het.
Die polisie het die twee verdagtes gestop, die bakkie deursoek en op die sigarette in die bakkie afgekom.
Die sigarette is gekonfiskeer en die verdagtes van onderskeidelik 35 en 29 jaar oud is gearresteer, sê brig. Ramatseba.
Die ondersoek duur voort en die verdagtes sal binnekort in die landdroshof op Calvinia verskyn.



