PRETORIA – Bheki Cele, die minister van polisie, wil Suid-Afrikaners waarsku teen vals sosiale media-profiele wat aan ‘Bheki Cele’ behoort.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê ‘n waarskuwing is twee jaar gelede deur die ministerie uitgereik teen vals sosiale media-profiele. Diegene wat die minister probeer verpersoonlik, wil niksvermoedende sosiale media-verbruikers slegs in kriminele aktiwiteite gebruik.
Hy sê minister Cele het geen privaat of amptelike sosiale media-profiel nie.
Ondersoeke word tans deur die Valke gedoen om hierdie vals rekeningoperateurs te identifiseer, op te spoor en vas te trek.
Daar is in hierdie stadium meer as 160 rekeninge op Twitter en Facebook met profiele vol foto’s van minister Cele en sy besonderhede. Van hierdie profiele het selfs foto’s van tien jaar gelede, toe die minister nog die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was. Een van dié rekeninge het net onder 60 000 volgelinge wat onder die indruk is dat hulle die minister van polisie volg.
Dis wel waar dat ‘n groot aantal misdade opgelos is deur wenke van die publiek as hulpmiddel te gebruik. Sommige burgers wil dalk soortgelyke wenke aan ‘die minister’ stuur en laat beland dit dan dalk in die verkeerde hande. Dit hou op sigself ‘n risiko in vir die persoonlike veiligheid en die lewens van wetsgehoorsame burgers wie se bedoeling is om met die polisie saam te werk teen misdaadvoorkoming en -bestryding.
Die minister van polisie wil verder die publiek inlig dat alle amptelike kommunikasie oor sake van die ministerie van polisie dienooreenkomstig gekommunikeer sal word deur hierdie kantoor deur amptelike SAPD-kanale.



