Inperking: ‘Drive through’-ooievaarstee vir amper-mamma

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Mense regoor die wêreld het maande voor die Covid-19-pandemie uitgebreek het, aan sosiale byeenkomste soos troues, partytjies en ooievaarstees beplan. Die streng maatreëls oor sosiale distansiëring maak dit nou egter bykans onmoontlik om met enige van dié planne voort te gaan. Behalwe as jy kreatief dink…

Lize-Marie Marais, inwoner van Kimberley, se ooievaarstee is vandag in die vorm van ‘n drive through in Southridge gehou. Vriende en familie het in ‘n ry in hul karre gewag en een vir een uitgeklim om vir Marais geskenkies neer te sit.

Marais word binnekort die mamma van ‘n babadogtertjie, Lu-Marie, en haar familie en vriende het besluit die inperking is geen rede om nié ‘n ooievaarstee te hou nie.

Janine de Montfort sê Marais se skoonma, Lizette Marais, het voor die inperking begin het, ‘n ooievaarstee by Horseshoe vir haar gereël. Eetplekke het egter met die Covid-19-uitbraak hulle deure toegemaak en Marais se ooievaarstee is afgestel.

De Montfort sê sy het die idee op die internet gekry. “Ons het gesoek na maniere om steeds iets spesiaals vir haar te doen. Toe ek dié video’s sien, het ek dadelik geweet dis wat ons moet doen… Ek het dit voorgestel en die idee is goed oorweeg voor ons besluit het om dit te doen.”

De Montfort sê dit was ‘n baie emosionele oomblik vir Marais. “Haar ma is tans in Kaapstad en kon nie hier wees nie. Die hele gedoente was vir haar ‘n groot verrassing.”

Marais se vriendin, Antoinette Visser, het gereël vir ‘n polisiebeampte om die karre deur die straat tot by Marais se huis te begelei.

Levona Ponton het ‘n kar voor die huis versier met die woord “ooievaar”, waarin die geskenkies gepak is. Daar was altesaam 15 motors en twee motorfietse.

De Montfort sê sy wil graag spesiaal vir Lizette, Levona en Antoinette dankie sê vir hulle insette in dié spesiale dag.

Kyk die video hier.