WhatsApp-administrateurs kan boet vir fopnuus op groepe

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Administrateurs van WhatsApp-groepe moet versigtig wees wie hulle toelaat om op hulle groep plasing te doen.

Na aanleiding van die wysiging aan die wet op rampbestuur is dit nou ’n kriminele oortreding om doelbewus met die bedoeling om te mislei fopnuus oor Covid-19 te versprei. Lees ons vorige berig, Nuwe wette om die koronaviruspandemie te keer

Volgens Bizcommunity was daar nog nie ’n presedent in ’n Suid-Afrikaanse hof gestel waar die administrateur van ’n WhatsApp-groep streng aanspreeklik gehou is vir die inhoud wat deur ’n lid van ’n groep geplaas is nie. Volgens die berig is ’n administrateur in ’n Indiese hof aanspreeklik gehou vir die lasterlike plasing deur ’n lid. 

WhatsApp-administrateurs word gemaan om versigtig te wees oor watter inhoud in groepe toegelaat word.

Emma Sadlier, sosialemedia-spesialis, het in ’n radio-onderhoud met Cape Talk gesê: “Die wet van Suid-Afrika behandel administrateurs soos die redakteur van ’n koerant, wat vir die inhoud van die bladsye verantwoordelik is.”

Dit word oor die algemeen aanbeveel indien administrateurs aanspreeklikheid vir inhoud in groepe wil vryspring, moet hulle hulself van die onwettige inhoud distansieer. Alternatiewelik moet meer drastiese stappe geneem word, soos om die lid of lede wat dit geplaas het, te verwyder.