Nuwe wette om die koronaviruspandemie te keer

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die wet op rampbestuur is gister drasties gewysig om die koronaviruspandemie te bekamp.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die wetsontwerp in die staatskoerant nr. 43107 op 18 Maart geplaas. 

Volgens Dlamini-Zuma is die stappe noodsaaklik om ’n erger ramp te voorkom of om die uitwerking van die ramp te verlig, te stuit en te minimaliseer.

Skole gesluit

Behalwe dat alle skole en gedeeltelikesorg-fasiliteite vanaf 18 Maart tot 15 April 2020 gesluit moet word, gaan alle binneverbruikpersele waar drank verkoop word so vroeg soos 18:00 gesluit moet word en mag daar eers vanaf 09:00 in die oggende handel gedryf word.

Besighede wat drank verkoop, moet vroeg toemaak

Alle binneverbruikpersele waar drank verkoop word, met inbegrip van tavernes, restaurante en klubs, moet onmiddellik gesluit word, of moet hoogstens 50 persone op enige tyd akkommodeer indien genoegsame spasie beskikbaar is en daar aan alle voorskrifte ten opsigte van higiëniese toestande en die beperking van blootstelling aan persone met Covid-19 voldoen word.

Alle persele waar drank verkoop word wat akkommodasie voorsien, moet maatreëls instel om die verspreiding van Covid-19 te stop: met dien verstande dat genoegsame spasie beskikbaar is en dat aan alle voorskrifte ten opsigte van higiëniese toestande en beperking van blootstelling aan persone met Covid-19 voldoen word.

Geen spesiale of geleentheidsdranklisensie mag vir die duur van die nasionale ramptoestand vir goedkeuring oorweeg word nie.

Handelsure vir besighede waar drank verkoop word:

Alle binneverbruikpersele waar drank verkoop word in subregualsie (1) moet toe wees —

(i) tussen 18:00 en 09:00 die volgende oggend op weeksdae en Saterdae en

(ii) van 13:00 op Sondae en openbare vakansiedae.

Opskorting van besoeke

Besoeke aan verskeie openbare fasiliteit word vir ’n tydperk van 30 dae beperk.

Besoeke aan die volgende plekke is beperk:

  • korrektiewe sentrums;
  • uitstel-aanhoudingsfasiliteite;
  • selle;
  • militêredetensie-fasiliteite; 
  • en fasiliteite van die departement van maatskaplike ontwikkeling, soos kinder- en jeugsorgsentrums, skuilings, eenstopsentrums en behandelingsentrums;

Misdrywe en strawwe

By die toepassing van regulasies is enigiemand wat ’n byeenkoms van meer as 50 persone saamroep waar drank verkoop en verbruik word skuldig aan ’n misdryf.

Enigeen wat van misdrywe skuldig bevind word kan ’n stewige boete of gevangenisstraf van hoogstens ses maande of beide ’n boete en gevangenisstraf kry.

Tronkstraf vir fopnuus en wanvoorstelling oor die koronavrius

Dit is ’n nou ’n kriminele oortreding om doelbewus ’n wanvoorstelling te maak dat enigiemand anders met COVID-19 besmet is.

Dit is ook ’n oortreding om ’n verklaring, op enige medium insluitende sosiale media te publiseer met die bedoeling om te mislei.

Opsetlike blootstelling

Enigeen wat iemand anders aan Covid-19 blootstel, kan vir ’n misdryf vervolg word, met inbegrip van aanranding, poging tot moord of moord vervolg word.

Die wetsontwerp het vanaf 18 Maart in werking getree.

Hier volg die volledige wet op rampbestuur: