Breek die stigma oor bikers

Deel hierdie storie / Share this story

Bikers het al die jare nog die reputasie dat hulle rof, onbeskof en gevaarlik is. Alhoewel dit soms die geval is, is motorfietsryers oor die algemeen vriendelik en liefdevolle mense wat vir hulle medemens omgee.

FiND iT gesels met Craig en Nicolene Jacobs oor hulle leefstyl en hoe nie alle motorfietsryers oor dieselfde kam geskeer moet word nie.

Albei is in Kimberley gebore. Craig (36) het in Kimberley grootgeword en Nicolene (36) op Barkley-Wes. Die paartjie het mekaar op Hopetown ontmoet toe Nicolene vir ’n finansiële instansie gewerk het. Craig het in daardie stadium vir ’n koeriermaatskappy gewerk wat pakkies by Nicolene se werk moes oplaai. Hulle is in 2006 getroud en het na Hartswater verhuis.

Craig en Nicolene het in 2010 weer na hulle geboortedorp verhuis en het nou twee pragtige dogters. Craig is tans betrokke by die recovery-span van die Noord-Kaap en Nicolene werk nog by dieselfde finansiële instansie.

Liefde vir motorfietse

Craig het sy eerste motorfiets in Mei verlede jaar gekoop. “Hy sou dit seker al vroeër gekoop het as ek nie bly nee sê het nie. Alhoewel my pa self ’n motorfietsryer was. Dit is waar my liefde vir motorfietse vandaan kom,” vertel Nicolene.

Bikers is gewone mense

“Uit ’n Biker se oogpunt is dit definitief nie die geval dat ons gevaarlike mense is nie. Baie suksesvolle besigheidseienaars is motorfietsryers. Baie mense glo wel dat bikers gevaarlike mense is en is in ’n mate versigtig vir motorfietsryers,” se Craig.

Nicolene sê in haar oë is bikers doodgewone mense met ’n passie vir motorfietsry. “Die lekkerste deel daarvan is die saamkuier en die adrenalien wanneer jy op jou motorfiets klim. Ons is ook die tipe mense wat help waar ons kan. Die toy run find elke jaar plaas, waar baie bikers betrokke is. Dit laat mense besef wat in die wêreld aangaan en hoeveel behoeftige kindertjies daar buite is.”

Om ’n biker te wees, is ’n leefstyl

Vir dié paartjie is dit definitief ’n leefstyl. Hulle meen van die begin af besef jy dit is ’n brotherhood en dat jy altyd daar moet wees vir mekaar. “Respek, eerlikheid en veiligheid is vir ons die belangrikste. Respekteer jou mede-bikers. Wees ten alle tye eerlik teenoor mekaar. Veiligheid is bitter belangrik. Ons het ’n sekere patroon wat ons ry as ons in ’n groep ry. Dit help dat jy die biker agter jou en voor jou kan sien. As jy vooruit ry, moet jy in die geel lyn terugval en nie net omdraai om by die groep in te val nie. Jy kan jou lelik misgis met die spoed van ’n motorfiets. Ons ry in ’n groep en bly in die groep tot almal opbreek om huis toe terug te keer,” sê Craig.

Nicolene vertel Craig is die verantwoordelike een van hulle. “Hy sal glad nie kanse vat as ek saam op die motorfiets is nie, maar dit is die lekkerste om saam met hom te ry. Dit is iets wat ek en hy saam doen en geniet. Ons beplanning is wel om nog n motorfiets te koop dat ons saam kan ry. Ons geniet elke trip saam met ons vriende wat dit net so lekker maak.”