Koronavirus plaas Bloodhound-projek op ys vir ’n jaar

Deel hierdie storie / Share this story

HAKSKEENPAN – Die bod deur Bloodhound LSR om die landspoedrekord te breek, is weens die koronaviruspandemie met ’n jaar uitgestel.

Dit kom as ’n dubbele terugslag nadat verlede maand aangekondig is dat hulle likwidasie in die gesig gestaar. Lees ons vorige berig, Fondse briek Bloodhound.

Ian Warhurst, die uitvoerende bestuurder van dié projek, sê “Die wêreld het op die oomblik met Covid-19 belangriker dinge om op te fokus. Gesprekke met ’n aantal wêreldwye handelsmerke het belowend gelyk, maar die borgskapbedrywighede het letterlik gestaak toe die koronaviruspandemie toegeslaan het.”

“Dit beteken dat die moontlikheid om die nodige fondse betyds in te samel en gevolglik die kans om die landspoedrekord-veldtog (LSR) in 2021 uit te voer, nou waarskynlik misgeloop sal word.”

In ’n poging om die gees van aanhangers te lig, het die Bloodhound-span ’n video vrygestel waarin gewys word hoe Bloodhound versnel in vergelyking met ’n Formule 1-motor, ‘n Bugatti Chiron en ’n gewone motor.