HAKSKEENPAN – Die bod deur Bloodhound LSR om die landspoedrekord te breek, word weereens oor befondsing bedreig.
Volgens die BBC sê Ian Warhurst, die uitvoerende bestuurder van dié projek, befondsing word in die volgende maand benodig, anders word die projek gelikwideer.
Warhurst sê met die toevoeging van ’n vuurpyl kan die Bloodhound-straalmotor maklik die bestaande wêreldrekord van 1228 km/h klop.
Dit sal egter net gebeur mits die finansiering daar is om dit te ondersteun, sê die Yorkshire-sakeman.
Warhurst het aan die einde van 2018 Bloodhound van administrasie gered. Hy het volgens die BBC destyds gesê hy sal slegs sy eie geld gebruik om die projek deur die demonstrasieproewe te neem.
Die ondersteuning van individue of ondernemings word benodig. Ongeveer £8 miljoen word vereis om die projek te voltooi.





