Inbrekers oorval pa en seun

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Ek kon die hele tyd wat hulle daar was, nie my oë van my pa afhaal nie. Ek kon hulle oortuig om te vat wat hulle wil hê eerder as om my pa seer te maak.”

’n Inwoner van Kimberley (22) en sy pa (68) is gistermiddag omstreeks 14:30 deur vier inbrekers in hulle huis in Monument Hoogte oorval.

Die inwoner, wat uit vrees vir viktimisasie nie sy naam genoem wil hê nie, het met ons oor die insident gepraat.

“Ek was besig om my broer se kamer skoon te maak, toe ek skaduwees buite die venster gesien het. Toe ek deur die sitkamer na buite wou loop om te gaan kyk wat dit was wat ek gesien het, is ek deur vier mans in die deur vasgekeer. Ek het nie tyd gehad om ’n wapen te soek nie,” sê die inwoner.

Die inwoner se pa was op die bank in die sitkamer aan die slaap en het eers ná die rowers met ’n skootrekenaar, selfoon en luidspreker die pad gevat het, wakker geword. Een van die vier inbrekers het ’n mes teen die seun se keel gehou terwyl twee van die vier die huis gaan deursoek het.

“Die een rower het by my pa gaan staan en vir my gekyk asof hy vir my wil sê dat enige poging om hulle te stop, my pa se lewe in gevaar sal stel. Ek kon die hele tyd wat hulle daar was, nie my oë van my pa afhaal nie. Ek het hulle oortuig om te vat wat hulle wil hê, eerder as om my pa seer te maak,” vertel die seun.

Die seun se broer vertel hoe die inbraak hulle gesin ontstel het. “Ek is nie ontsteld oor die goed wat hulle gesteel het nie. Ek is kwaad omdat ek nie daar was om my broer en my pa te help nie. Mense moet steeds op die uitkyk wees. Hierdie virus-pandemie stop nie die kriminele nie.”

Hy sê hulle het nie ’n saak by die polisie gaan open nie.