Korona: 199 Suid-Afrikaners op pad terug van Wuhan

Deel hierdie storie / Share this story

“Ons vra nie meer of die virus hierheen gaan kom nie. Die vraag is nou wanneer dit gaan kom.”

Die Suid-Afrikaanse burgers wat in Wuhan in China vasgekeer is weens die koronavirus, word moontlik binnekort na Bloemfontein en omliggende areas gevlieg. Volgens die presidensie is nie een van die sowat 199 Suid-Afrikaners wat na S.A. teruggebring word, positief vir die koronavirus getoets nie.

Dr. Angelique Coetzee, ’n algemene praktisyn van Pretoria, het in ’n onderhoud op RSG haar mening oor hierdie kwessie uitgespreek. Volgens dr. Coetzee is die Wêreldgesondheidsorganisasie baie duidelik oor die feit dat daar geen beperkings op beweging tussen al die lande is nie. Sy sê ook dis belangrik om te verstaan dat hierdie individue wat van China af Suid-Afrika toe kom, tans vasgevang is in die stede waarin hulle bly.

Dr. Coetzee sê die persone wat van China af kom, gaan direk vir 21 dae op ’n afgeleë plek in die Vrystaat gehou word. As ’n individu dan byvoorbeeld na 20 dae ’n simptoom ontwikkel, sal hy vir ’n verdere 21 dae onder kwarantyn gehou word.

“Ek dink nie die publiek is ten volle bewus van die dinamika wat sal afspeel wanneer hierdie virus in ons midde uitbreek nie.”

Dr. Coetzee wil ook graag hê die publiek moet verstaan dat die oomblik wat ’n persoon met die koronavirus gediagnoseer word, hy nie sy dokter sal kan gaan sien nie. “Ons gaan julle oor die telefoon of oor Skype of enige ander mediaplatform moet behandel.”

Dr. Coetzee bevestig dat daar nog nie ’n teenmiddel vir hierdie virus ontwikkel is nie.