“Ek voel soos ’n gevangene in my eie dorp”

Deel hierdie storie / Share this story

Daar heers totale chaos in Barberton na die Umjindi-munisipaliteit wat op dié dorp in beheer was, nou met die Mbombela-munisipaliteit saamgesmelt het. Hierdie nuwe munisipaliteit op die dorp voorsien glo nie in die inwoners se behoeftes nie. Die paaie se toestande raak by die dag erger en die watertekort raak ’n groot krisis.

Helen Laurent, inwoner van Barberton, vertel aan FiND iT hoeveel hierdie dorp in die afgelope drie weke agteruitgegaan het. Volgens Laurent is die groep betogers, wat ongelukkig is oor die feit dat die Umjindi-munisipaliteit nie meer in beheer is nie, al vir drie weke so onrustig.

Sy beskryf dit as ’n gevoel van gevangene wees in jou eie dorp. “Ons moet die hele tyd in ons huise bly. As jy in jou kar klim om werk toe te ry, word jou kar met klippe stukkend gegooi. Die kinders is al vir drie weke nie by die skool nie, want dit is eenvoudig te gevaarlik om in die strate rond te beweeg. Ons almal is keelvol. Dis nie net ek nie.”

Laurent sê al die inwoners het empatie met diegene wat in die informele nedersettings bly. Die watertenks wat in hierdie gebied was om die waternood te verlig, is glo twee weke terug verbrand. Die inwoners in hierdie area moet nou ver loop en water aandra of water kry in gebiede waar dit vuil en onsuiwer is.

“Ek kan my net indink hoe dit moet wees vir die kinders om in die nagte bang te wees as gevolg van die chaos wat om hul huis woed.”

Phillip Minnaar, DA-raadslid, sê die polisie is op die huidige stadium geheel en al in beheer van die situasie en monitor die betogings.

Afriforum Gemeenskapsveiligheid en Gemeenskapsake het gister hierdie gebroke dorp besoek en wil planne maak en hulle reg opneem om hulself en hul eiendom te beskerm. Afriforum het ’n beveiligingsplan voorgestel en dit lê nou in die gemeenskap se hande om hierdie plan op te neem.