RITCHIE – Die gemeenskap van Ritchie is volstoom aan die gang met die suidwesdoring-projek om die indringer uit te roei en met inheemse bome te vervang.
Lede van die gemeenskappe van Rietvale, Mimosa, Modderrivier en Ritchie het Saterdag van die 120 bome ontvang om te plant. Lees ons vorige berig, Eerste vrag van 120 bome vir Ritchie.
Elize Niemann, inwoner van Ritchie wat die suidwesdoring-projek bestuur, sê elke takkie van die indringerboom wat afgesaag word, moet geverf word om te verhoed dat dit weer groei.
Die bome wat afgesaag word, gaan ook nie tot niet nie. Begrafnisondernemers en houtwerkers gaan van die hout gebruik maak, verduidelik sy.
Niemann sê hulle gaan nog bome kry. Die reëling is vir elke indringer wat verwyder word, ontvang inwoners ’n inheemse boom om dit mee te vervang.
’n Rotstuin met ’n naambord, met Ritchie se naam op, word by die ingang beplan.













