Eerste vrag van 120 bome vir Ritchie

Deel hierdie storie / Share this story

RITCHIE – Die eerste vrag van ongeveer 120 bome wat die uitheemse suidwesdoring in die Ritchie-gebied vervang, is in Ritchie afgelewer.

Elize Niemann, inwoner van Ritchie wat die suidwesdoring-projek bestuur, sê hulle het ongeveer 120 bome van meer as drie verskillende soorte ontvang. Die bome gaan Saterdag aan lede van die gemeenskap hier uitgedeel word. 

Inwoners van Ritchie en die Sol Plaatje-munisipaliteit werk saam om van die indringerbome in dié gebied ontslae te raak. Lees ons vorige berig, Indringers word verwyder.

Nog indringers gaan die naweek verwyder word. Niemann sê die gemeenskap gaan saam besluit oor watter bome by Ritchie se ingang geplant gaan word.

Indringerplant

Die suidwesdoring (Prosopis glandulosa) is ’n indringerplant inheems aan die deelstate Arizona, Texas en Meksiko. Dit kan groei tot ’n klein boompie. In Suid-Afrika kom dit in die droë westelike gedeeltes van die land voor, die Noord-Kaap en die Karoo, waar dit ook bekend staan as die muskietboom. Dit staan ook bekend as die heuningprosopis, en in Engels staan dit bekend as die honey mesquite.

Miljoenrandprys vir 2020

Sol Plaatje-munisipaliteit het verlede jaar R250 000 by die 17de jaarlikse nasionale Arbor City-toekennings vir vergroening gewen. Niemann sê hulle hoop die projek kan die munisipaliteit help om hierdie jaar met die miljoenrandprys weg te stap.