Indringers word verwyder

Deel hierdie storie / Share this story

RITCHIE – Die inwoners van Ritchie en die Sol Plaatje-munisipaliteit staan saam om van die indringerbome in dié area ontslae te raak.

Elize Niemann, inwoner van Ritchie, sê egter hulle wil nie graag bome afkap en uithaal sonder om weer nuwes te plant nie.

Die uitheemse prosopisbome wat volop is op Ritchie, groei buite beheer.

Mnr. Mazzimo, bestuurder van die Parkeraad in Kimberley, het ingestem om ’n span uit te stuur om twee keer ’n week van die indringerbome in Ritchie te gaan verwyder. Hierdie bome word dan vir ongeveer twee weke gelos om uit te droog. Die begrafnisondernemers en ander besighede in Ritchie maak dan van hierdie hout gebruik.

In die plek van hierdie bome gaan daar dan inheemse bome soos olienhout, wit stinkhout en ’n verskeidenheid van kareespesies geplant word. Daar word tans in Ritchie ’n opname gedoen om vas te stel presies hoeveel bome die dorpie gaan nodig hê.

Niemann vertel ook van ’n versoek wat aan die departement van landbou gerig sal word om ’n hamermeul aan te koop om die peule wat die uitheemse bome afgooi, fyn te maak.

Sommige van die boere in die Ritchie-omgewing gebruik die peule om hul diere te voer. As die diere die fyngemaakte peule gevoer word, sal die sade nie kan versprei nie en kan die verdere groei van hierdie bome beperk word.