Beampte praat na aanval teen polisie op sosiale media

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Adjudant-offisier by forensies in die Suid-Afrikaanse-polisiediens (SAPD) praat na video’s op sosiale media geplaas is wat die integriteit van die SAPD aangeval het.

Nicholaas Delport, die polisiebeampte, het ’n ope brief op sy Facebook-profiel geplaas nadat die publiek onder ander ’n video van ’n voorval waar ’n vrou rof deur metropolisielede behandel is, gedeel het.

Delport sê: “Goeiedag almal. Ek wil iets van my skouers af kry. Ek is ’n adjudant-offisier in die SAPD. Op 15 Desember gaan ek 32 jaar dienslewering in die polisiediens hê.”

“Om tot die punt te kom. Daar is ’n paar videogrepe van mense wat die toewyding en integriteit van die SAPD as geheel aanval.”

“’n Man het twee video’s op YouTube geplaas en beweer dat die SAPD onbetroubaar is. Een van die video’s van SAPD-voertuie en ’n ander voertuig wys waar die polisiebeampte blykbaar omgekoop word. Alhoewel die kamera te ver is om te sien of dit geld is wat hande ruil, aanvaar ek die moontlikheid.”

“Die ander is van die vrou wat deur die metropolisie-beamptes by ’n vulstasie in Pretoria rof hanteer is. Daar is ook ’n paar foto’s van polisiebeamptes geplaas. Die een is van ’n beampte wat in sy polisievoertuig slaap. Nog een van ’n oorgewig polisiebeampte. Elkeen met die doel om die SAPD in ’n slegte lig te plaas.”

“Ek wil die volgende vir u sê. Eerstens is daar ’n groot verskil tussen SAPD en die metropolisie. Die SAPD word deur die Polisiewet beheer. Ons hou streng by die reëls en regulasies. En ja, daar is ’n paar vrot appels, maar ons raak ontslae van hierdie korrupte amptenare. Ek wil die stelling maak dat meer as 80% van ons toegewyd en betroubaar is. Daar sal altyd ’n paar slegtes in so ’n groot organisasie wees. Soos in elke ander beroep in hierdie land! Waarom moet ons die enigstes wees wat op sosiale media verneder word?”

“Dan, baie belangrik. Moenie die SAPD met die metropolisie verwar nie. Metro is eintlik verkeersbeamptes, nie die SAPD nie. Hulle val nie onder ons nie. Hulle volg nie dieselfde reëls en regulasies net omdat die woord ‘polisie’ deel van hul naam is nie.”

“Moenie video’s en foto’s plaas van die metropolisie en dan beweer dit is die polisie nie. Hulle is verkeerspolisie.”

“As u ’n verskil in SA wil maak, help ons om die goeie beeld van die SAPD te herstel. Daar is baie positiewe verhale van SAPD-lede wat ’n verskil maak. Kom ons begin die positiewe stories te deel, sodat ons burgers kan weet dat die meerderheid van ons goeie, hardwerkende burgers is. Dankie,” sluit Delport af.