SUID-AFRIKA – ‘n Sakeman in Kaapstad kom by sy nuwe motor aan terwyl ‘n straatseuntjie dit staan en bewonder.
Hy vertel die storie self so:
Hywou net die sleutel in die motordeur steek, toe die seuntjie vra: “Is dit Meneer se motor?”
“Dis myne, ja,” antwoord die man. “Hoeveel het hy gekos, Meneer?” vra die seun.
“Ou seun, ek weet nie,” antwoord hy.
Die seun kyk ondersoekend na die man en vra: “Meneer lyk nie na die soort wat ‘n motor sal steel nie, maar waar het Meneer dan die motor gekry?”
Die man antwoord: “My broer het dit vir my gegee.” ‘n Verlangende uitdrukking kom in die seun se oë en hy sê : “Ek wens…”
Die sakeman het verwag dat hy gaan sê: “Ek wens ek het so ‘n broer gehad,” maar hy eindig sy sin anders as wat die man verwag het, en dit raak sy hart diep:
“Ek wens ek kon so ‘n broer wees,” sê hy. Die man se hart ruk wild in sy borskas en sy woorde raak hom so dat hy sê: “Kom, klim in, dan voel jy hoe ry hy.”
“Ek sal Meneer se kar net vuil smeer,” keer die seun. Die sakeman het by homself gedink: “Jou klere mag vuil wees, maar jou hart is spierwit.”
Hy dring op die rit aan en die seun klim gretig voor by die motor in. “Sal Meneer voor my huis stilhou, asseblief” vra hy dringend.
Die man hou voor ‘n trapgang in ‘n agterstraatjie stil. Soos ‘n klipspringer is die seun uit die motor en kom na ‘n rukkie stadig terug met ‘n kleiner seuntjie in sy arms. Die seuntjie is inmekaargetrek as gevolg van polio. Saggies sit hy die seuntjie op die onderste trap op die sypaadjie neer.
“Daar is hy, Boetie. Sy broer het dit vir hom gekoop. As ek eendag groot is, gaan ek vir jou net so ‘n kar koop, dan kan jyself na al die winkelvensters gaan kyk.”
Trane swem in die sakeman se oë en met ‘n knop in sy keel sê hy: “Kom julle twee. Jou boetie gaan sommer vandag die winkelvensters sien.” Hy help om die kreupel seuntjie voor by hom en die boetjie in te tel. Hy ry na die grootste winkelsentrum in die stad.
Toe hulle stilhou, sê die man “Kom ons gaan kyk,” terwyl hy die kreupel outjie in sy arms dra. “Soek uit wat julle wil hê.” Hulle het mildelik van sy aanbod gebruik gemaak en gekies wat hulle wou hê. Die volgende paar uur in hulle geselskap was die gelukkigste tyd wat die sakeman nog ooit in sy lewe ervaar het.
“Ek het besef dat die loon van om aan ander te gee, nie altyd materiële loon is nie, maar dat die beter loon ‘n opgeruimde en gelukkige hart is,” verduidelik die sakeman.
Hy sê: “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het as ander wat suinig is. Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê.”
“Wie die dors van ander les, sal self nooit dors word nie. En ek het besef. Ek wil so ‘n broer wees,” sluit hy af.



