Droogtehulp van R30 miljoen vir NK-boere

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Die departement landhervorming, landbou en natuurbewaring in die Noord-Kaap sê hulle is gereed om ’n droogtehulpprogram in die provinsie te implementeer.

Dit kom ná David Mabuza, die adjunkpresident, en Thoko Didiza, minister van landbou, die provinsie besoek het.

Zandisile Luphahla, woordvoerder vir die departement landhervorming, landbou en natuurbewaring in die Noord-Kaap, sê tydens die besoek het die adjunkpresident aangekondig dat die provinsie R30 miljoen beskikbaar stel vir die droogtehulpprogram.

“Die proses het stadig begin met minder boere wat geregistreer het as wat daar verwag was. Meeste het nie die nodige ondersteunende dokumente gehad nie. Dit terwyl ons die landbousektor gemaan het om met die vereiste dokumente vir droogtehulp aansoek te doen,” sê Nomandla Bloem, LUR van landbou in die provinsie.

“Ek kan veilig sê dat boere in Namakwa vanaf Maandag 18 November geskenkbewyse gaan ontvang. Ons hoop om die program tot 29 November uit te voer,” sê sy.

Aansoeke vir droogtehulp in die Namakwa-gebied het gesluit.

Aansoeke vir droogtehulp sluit 18 November

Boere in die Frances Baard, John Taolo Gaetsewe, Pixley Ka Seme en ZF Mgcawu-distrikte het egter nog kans tot 18 November om aansoek te doen.

Die volgende dokumentasie word vereis:

  • Titelakte, huurooreenkoms of besettingsbrief
  • Gesertifiseerde kopie van ID
  • Handelsmerksertifikaat

Die volgende geregistreerde voer word vir droogtehulp goedgekeur:

  • Complete finishing pellets- 50 kg composition
  • Maintenance pellets for ruminants -50 kg composition
  • Lucerne and lucerne pellets – 50 kg composition

Die departement het tans drie voerkraalbanke in die provinsie wat tydens droogte met voer gehelp het,

Die omvang van hierdie droogte beïnvloed al vyf distrikte en die departement het aanbeveel dat alle distrikte van die provinsie as ’n rampgebied verklaar word, sluit Luphahla af.