SUID-AFRIKA – Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) sê daar is geen sprake van afleggings by hulle om kostes te bespaar nie.
Johan Kruger, ’n woordvoerder by die poskantoor, sê alhoewel uitgawes vir arbeid hoog is, word alternatiewe opsies oorweeg om uitgawes vir arbeid te verminder.
SAPO is in konsultasie met werknemers en vakbonde en ‘n program is begin waarin vrywillige skeidingspakkette aan kwalifiserende werknemers aangebied is. Meer as 776 aansoeke is goedgekeur. Die totale koste van skeidingspakkette beloop R130 miljoen en die jaarlikse besparing op arbeidskoste deur hierdie program is R204 miljoen.
Kruger sê SAPO ondersoek ook ander maatreëls om kostes te bespaar. Oortyd beloop tans ’n uitgawe van ongeveer R42 miljoen per jaar.



