KIMBERLEY – Inwoners van Hadison Park het vanoggend die veld in Jacobsonlaan skoongemaak.
Inspirerende bure
Dit het vlam gevat nadat Linden Abrahams, ’n inwoner daar, drie van sy bure, Pieter, Jannie en Mark, inspireer het om hand by te sit en dié straat in hulle buurt op te ruim.
Lees ons vorige berig, Samaritaan maak Albertynshof skoon.
Linden, wat ’n ouditeur by SARS is, het ’n geruime tyd gelede daarmee begin toe hy op die hoek van Jacobsonlaan en Croninweg skoongemaak het.
Dit het nie lank geneem vir Pieter en Jannie, mede-eienaars van Kosmos-gastehuis, en Mark om Linden te help om die omliggende gemeenskap te laat sprankel nie.
Bring vreugde na buurt
Elkeen is met die nodige implemente uitgerus. ’n Braaitang kom handig hier te pas om die rommel op te tel. Die buurt lyk beter na elke sak rommel wat hulle bymekaarmaak.
Meer as 50 sakke rommel opgeruim
Hulle het sedert Linden hier begin het meer as 50 sakke rommel opgetel, maar dit vat nie lank voor die omgewing weer met vullis besoedel is nie.
Nie vir beroemdheid
Linden sê hy doen dit nie vir publisiteit nie. “Die munisipaliteit is hier verantwoordelik, maar niks word gedoen aan die rommel en onkruid op sypaadjies, en in die veld, om dit skoon te hou nie. Ek het dit daarom self begin doen.”
Motoriste toon waardering
Motoriste toet en waai uit dankbaarheid vir die werk wat hulle daar doen. Sommiges stop en gee eet-en-drinkgoed af om hulle te verfris en ’n hupstoot te gee terwyl hulle in die bakkende son werk en trots en vreugde na hulle buurt bring.













