August 5, 2021

Samaritaan maak Albertynshof skoon

KIMBERLEY – Danie Möller (34) is die afgelope twee dae hard aan die werk om die hoek by die substasie op Waterworks- en Hulketstraat skoon te maak.

Die oop gedeelte by die substasie oorkant ’n dagsorg in Albertynshof word vir ’n geruime tyd deur rommelstrooiers misbruik. ’n FiND iT-leser het FiND iT ingelig oor ’n samaritaan wat besig is om die gebied skoon te maak. 

Rommel te veel vir swartsakke

“Ek het regtig nie besef hoeveel rommel ek hier gaan bymekaarmaak nie. Ek het skoon uit swartsakke gehardloop,” sê Danie.

Gister terwyl hy daar skoongemaak het, het iemand dou voor dag ’n ou geiser daar weggegooi. “Ek was vir ’n kort tydjie weg om water te gaan drink. Toe ek terugkom, kry ek die geiser daar lê.” 

Nie bang vir werk nie

Danie is in Kimberley gebore, maar hy het onlangs terug na die stad verhuis, sê hy. “Ek is op die oomblik werkloos en opsoek na werk, maar ek kon nie by die huis stilsit en niks doen nie.”

Hy is nie bang vir werk nie. Terwyl Danie vir werk soek, hou hy homself so besig. Hy sê hy is nie net ’n nutsman nie. Hy het ondervinding in verskeie vaardighede. “Ek het iets van alles gedoen. Ek het voorheen selfs treinspore gesweis.”

Danie sê die af en toe se toeterdruk of “shap”-teken wat hy van Kimberley se motoriste af kry wanneer hulle verby hom ry, is die beste aanmoediging. Daarvoor is hy dankbaar, sê hy.

Rommel ’n brandgevaar by substasie

FiND iT het vir Sello Matsie, woordvoerder van Sol Plaatje-munisipaliteit, gevra of die munisipaliteit die rommel, wat moontlik ’n brandgevaar kan inhou, gaan wegry. Vrae oor die statistieke vir die vervolging van rommelstrooiers asook hoeveel oortreders suksesvol vervolg was, is ook gevra.

Geen terugvoering op hierdie vrae is betyds vir publikasie ontvang nie.

*Geen duidelike statistieke oor rommelstrooiery nie

Matsie het aan FiND iT bevestig dat ’n trok môre uitgestuur sal word om die rommel te verwyder.

“Ons het nie werklike syfers nie, maar byna elke voorstad het ‘n probleem met onwettige storting,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *