WELKOM – Barend Human (48), ’n fasiliteitsbestuurder van die Goldfields-inkopiesentrum op Welkom het Maandagoggend spoorloos verdwyn. Dit nadat hy ’n huurmotor, met die sleutel, in ’n parkeerterrein by Game gelos het.
Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder vir die Welkom-polisie, sê Barend Human – wat as Barry bekend staan – is omstreeks 08:05 op 26 Augustus laas gesien. Barry het te voet vanaf Goldfields-inkopiesentrum geloop na Avis, waar hy ’n motor gehuur het. Luidens Pink Ladies, ’n organisasie wat vermiste mense opspoor, was Barry op pad om twee kollegas te gaan haal vir ’n vlug na Kaapstad om ‘n seminaar by te woon.
Kringtelevisiekameras by Welkom Square het Barry in die parkeerterrein afgeneem. Barry het die huurmotor parkeer en die motor verlaat. Die voertuig was ongesluit en die sleutel is in die aansitter gelos, verduidelik Thakeng.
Barry het ’n blou en wit langmou hemp, ’n donker jean en bruin stewels aangehad toe hy verdwyn het. Luidens Pink Ladies is Barry se selfoon af en het niemand sedertdien van hom gehoor nie.
Die polisie doen ‘n beroep op enige persoon met inligting wat kan help om Barry op te spoor, om speurder ao. T.illa Hamman, van die Welkom-speurdienste, by 083 611 7669 te skakel.




