Meester in vegkuns swaai swaard

Deel hierdie storie / Share this story

Jy sien hom as jy soggens by die trimpark in Milnerstraat verbyry. ’n Man wat met absolute presisie ’n swaard swaai en lyk of hy dans.

Suliman Sampson (59), meester in Chinese vegkuns, oefen hier in die oggend. Hy is ’n sewende generasie meester in dié kuns, wat hy al meer as 45 jaar lank beoefen.

Tania Coetzee van FiND iT het vanoggend by Suliman gestop om meer te hoor oor hoe dit werk.

Dissipline is belangrik

Dissipline is vir Suliman belangrik. “Oorsee is die dissipline vir vegkuns baie streng. Hier in Suid-Afrika is die dissipline baie swak. Dit is definitief iets waaraan daar gewerk moet word.” Hy het vir 17 jaar oorsee gewoon en sy kuns vervolmaak.

Hoekom vegkuns?

“My ma het eintlik met die hele storie begin. Ek was geboelie op skool. Sy het dit gesien en besluit om my vir vegkuns in te skryf. Van daar af het ek ’n passie daarvoor ontwikkel en dit verder gevat.”

Sampson gee ook elke Maandag en Woensdag klasse by die trimpark en Dinsdae en Donderdae by die militêre basis. Dit is baie goed vir selfverdediging.

Hoekom vegkuns vir ander?

“Deesdae is daar moeilikheid op elke hoek. Selfverdedeging is van uiterse belang, veral vir vrouens. Dit gaan ook oor die dissipline en die genot daarvan.”

Kyk die video hier onder hoe Sampson sy roetine doen.