Water stroom nog week na administratiewe fout begaan is

Deel hierdie storie / Share this story

BEACONSFIELD – ’n Waterlekkasie in Churchplek, in Beaconsfield, Kimberley wat verlede week weens ’n administratiewe fout in ’n SMS as herstel aangeteken is, stroom nog in die strate af.  

Ockert Fourie, ’n DA-raadslid, het op 9 Augustus die SMS-boodskap ontvang wat bevestig het die gebarste pyp op verwysingsnommer 210062 is herstel.

FiND iT het die gebied op 12 en 14 Augustus besoek en herstelwerk was nog nie begin nie. Die water het ’n dam op die hoek van Priorplek en Austenstraat gemaak.

Luidens Google StreetView is die lekkasie sedert 2014 ’n probleem.

Sello Matsie, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê die departement van waterwerke herstel lekkasies wanneer dit vereis word. Herstelwerk word volgens ’n skedule gedoen.

Matsie sê daar is soms ’n vertraging in die skedule wanneer daar aan ’n hooftoevoerpyp soos die 965mm-toevoerpyp gewerk word. Die skedule word ook beïnvloed deur lekkasies wat in  Galeshewe, Roodepan en Ritche rapporteer word.

*Foto’s en video is met ’n Huawei P30 geneem.