Gerehabiliteerde flamink op besigheidsperseel gevind

’n Flamink (nr. 0214) wat op 10 Junie by Kamfersdam vrygelaat is, is vanoggend op die erf van ’n fabriek in Delfosstraat, Kenilworth gevind.

Die flamink is na die DBV in Kimberley gebring. Dr. Donovan Smith sê die flamink is in ’n gesonde toestand. “Hy eet en loop in die water.”

Dit is nie duidelik of die flamink oortollige mynwater in die gebied vir ’n dam aangesien het nie.

Doug Harebottle, ’n senior lektor by die Sol Plaatje-universiteit, sê dit is nie normaal vir flaminke om in industriële of stedelike gebiede voor te kom nie. Dit gebeur soms dat flaminke byvoorbeeld die aanloopbaan van ’n lughawe met water verwar.

In dié geval is dit moontlik dat die flamink die water ondersoek het. Dit is te klein en bevat nie die nodige alge vir voedsel nie, daarom sal die flaminke nie gereeld daarvan gebruik maak nie, verduidelik Harebottle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *