Industriële ramp broei in Kenilworth

Kimberley — Oortollige water van mynbedrywighede in Kenilworth skep nie net ’n probleem vir motoriste in die gebied nie. Transnet sê hulle het vir veiligheid die spoedgrens vir treine in die gebied by die oorbrug verlaag.

FiND iT het die gebied besoek. ’n Keermuur by die kanaal wat water onder deur die spoorlyn lei, het ineengestort en die dreinstelsel wat die water tot by die Homevale-watersuiweringssaanleg vervoer, is geblok. Werkers van Sol Plaatje-munisipaliteit het begin om ’n opgaardam uit te grawe om oortollige water op te vang. Die water wat in die pad onder die oorbrug opgedam het, word daarheen weggepomp.

Mike Asefovitz, ’n woordvoerder vir Transnet, sê: “Ons is bewus van die probleem hier. Ons het by verskeie geleenthede die munisipaliteit genader vir ’n oplossing, maar tot dusver het dit geen vrugte opgelewer nie. Die munisipaliteit is hier vir die dreinstelsel verantwoordelik.”

Voorts sê hy: “As ’n voorsorgmaatreël het ons die spoed van treine in die gebied verminder. In besigheid is spoed goud werd. Daarom is daar ’n verlies in produktiwiteit as gevolg van die probleem hier.”

’n Besigheid in Delfosstraat het FiND iT gekontak nadat water sonder ophou deur hulle erf begin loop het.

“Verlede jaar het die water ook hier begin deurspoel. Toe dit uiteindelik opdroog,  het dit ’n wit laag agtergelaat. Dit skep nie net ’n gevaar vir ons diere nie, maar maak dit ook moeilik vir motors en trokke om hier te ry,” verduidelik personeel by ’n besigheid in Delfosstraat.

Lesego Pule, woorvoerder vir natuurbewaring in die Noord-Kaap, sê: “Dit lyk na ’n ernstige probleem deur mynbedrywighede veroorsaak. Daarom is die department van minerale hulpbronne hier vir kommentaar verantwoordelik.”

FiND iT het die munisipaliteit en vir Ekapa-myn vir kommentaar gekontak, maar het nie betyds vir publikasie terugvoering ontvang nie.

Plek-plek dui moerasse op water, maar die presiese roete wat die water onderdeur die spoorlyn tot op die twee erwe in Delfosstraat loop, is nog nie bekend nie. Dit is nie duidelik of die water deur ondergrondse kanale of deur die sandwalhelling van die spoorlyn loop nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *