NOORD-KAAP – Die hooggeregshof in Kimberley het Vrydag 14 Junie ’n 23-jarige, Angelo Visagie van Prieska, tot 10 jaar tronkstraf vir die verkragting van drie vroue gevonnis.
Na bewering het die beskuldigde drie vroue gedurende Augustus 2018 in drie afsonderlike voorvalle verkrag. Die eerste slagoffer (24) is deur die beskuldigde op ’n plaas naby Prieska oorval. Visagie het die slagoffer na ’n veld gesleep, waar hy haar verkrag het.
Tydens die tweede voorval het die beskuldigde ’n ryloper (32) oorval. Hy het die slagoffer na ’n veld gesleep en verkrag. Visagie het ook die slagoffer se kontant en besittings gesteel.
Die derde slagoffer (39) is by ’n verlate gebou naby ’n verlate treinstasie verkrag. Sy is ook van haar selfoon en besittings beroof.
Brig. Nomana Adonis, bevelvoerder vir die Pixley Ka Seme-distrik, het speurder-konst. Denzil Swart van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) op Prieska vir sy uitmuntende ondersoekwerk bedank.



