Gewapende kaper dood, drie in hegtenis geneem

Die polisie op Mothibistad in die Noord-Kaap het vanoggend 11 Junie omstreeks 03:55 drie verdagtes in hegtenis geneem. Dit volg nadat die verdagtes die vorige aand ’n bestuurder van ’n Ford Figo gekaap het.

Brig. Mohale Ramatseba, hoof van kommunikasie vir die polisie in die Noord-Kaap, sê: “Die bestuurder is deur die verdagtes in die kattebak van sy eie voertuig forseer. Die verdagtes het met die slagoffer in die kattebak rondgery.”

Voorts sê hy: “Die John Taolo Gaetsewe-taakspan het inligting opgevolg wat deur misdaadintelligensie verskaf is. Die gekapte motor is opgespoor. Die verdagtes het die polisie gewaar en het hulle bestorm, met hulle vuurwapens op die beamptes gerig.”

“Die polisie het reageer en een van die verdagtes is gewond en het aan sy wonde beswyk. Drie verdagtes is in hegtenis geneem en op twee vuurwapens is beslag gelê. Die slagoffer is uit die kattebak gered,” verduidelik Ramatseba.

Lt.-genl. Risimati Peter Shivuri het die spoedige optrede deur die polisielede geprys. Shivuri sê: “Niks sal ons keer om misdaad in die provinsie uit te roei nie.”

“Die verdagtes gaan binnekort in die plaaslike streekhof verskyn. Die ondersoek duur voort,” sluit Ramatseba af.

1 thought on “Gewapende kaper dood, drie in hegtenis geneem

  1. Jip, julle gaan dit seker uitroei soos ons nou nog wag vir enige uitsortering van ‘n plot en ander aanvalle in die Noord Kaap, wat na ‘n jaar steeds niks aan gedoen is nie. Maar kom ons vat dit maar dag vir dag, miskien kry julle die saak in so 10jaar uit gesorteer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: