Die oom in die deur – leser vertel

***Spookstories word ingestuur deur FiND iT lesers en is nie die opinie van FiND iT nie.***

Hierdie het ongeveer 30 jaar gelede gebeur. Ek was om en by 10 jaar oud.

Ons het op ‘n klein dorpie in die Suid-Vrystaat met die naam Trompsburg gebly. Trompsburg is ‘n klein dorpie waar almal vir almal ken. Daar het ‘n ou wewenaar om die hoek van ons gebly. Die oompie was al baie oud en ons het gereeld by hom gaan kuier. Hy was ook altyd reg vir geselsies wanneer ek en my broer verby sy huis gestap het terwyl hy altyd op sy stoep aan sy pyp sit en teug het met ‘n koppie moerkoffie in sy hand.

Een dag, soos maar gebeur, sterf die ou oom. Sy dogter, wat elders gebly het, het toe Trompsburg toe gekom om sy besittings op te pak. My ma het aangebied om haar te gaan help oppak en ek het besluit om saam te gaan. My ma en die oom se dogter het op een rusbank gesit waar my ma haar getroos het, terwyl ek op ‘n ander rusbank by die kombuisdeur gesit het. Skielik het ek die oom se pyptabak geruik en toe ek opkyk, staan die oom in die kombuisdeur. Hy was nie deurskynend soos spoke altyd gewys word in die media nie. Hy was solied, net daar, nie eers twee meter van my af nie. Hy het na sy dogter gekyk en geglimlag met trane in sy oë. Nie hartseer trane nie; die trane wat jy in jou oë kry as jou kind jou trots maak.

 Ek was ook nie bang nie, maar verward. Ek het my ma gevra: “Ek dog die oom is dood?” waarop sy my geantwoord het dat hy is. Toe ek vir hulle sê dat die oom in die deur staan, het hulle albei opgekyk. Ek kon dadelik aan die manier wat hulle gekyk het sien dat hulle nie die oom raaksien soos ek nie. Sy dogter het my gevra wat hy maak en toe ek haar vertel dat hy vir haar glimlag, het sy begin lag en huil deurmekaar. Toe ek terugkyk na waar die oom gestaan het, was hy weg. My ma vertel tot vandag toe nog die storie sou die gesprek na spoke dwaal. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: