Twee mans vir selfoontoringbatterye vas

Die polisie in Kimberley het omstreeks 07:30 op 11 Junie twee mans in Barklystraat in hegtenis geneem.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder vir die polisie, sê: “Die blitspatrollie was met roetinepatrolering besig toe hulle op twee verdagte mans met ’n trollie in Barklystraat afkom.”

“Die polisie het hulle voorgekeer en deursoek. Beamptes het twee loodkristal-selfoontoringbatterye in hulle besit gevind. Die verdagtes kon nie enige dokumentasie lewer om eienaarskap te bewys nie. Die twee mans is vir die besit van beweerde gesteelde goedere in hegtenis geneem.”

“Die waarde van die twee battery word op R32 000 geraam. Die twee verdagtes van 29 en 49 jaar gaan binnekort in die Kimberley-streekhof verskyn. Die ondersoek duur voort,” sluit Kock af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: