Wees bedag op die langpad, so kaap hulle jou met blou ligte

’n WhatsApp voice note doen die rondte wat motoriste waarsku om bedag te wees op bloulig-kapings op die langpad.

’n Motoris wat na bewering byna op die R700 tussen Bothaville en Soetdoring-natuurreservaat deur boosdoeners wat hulle as polisielede voorgedoen het, gekaap is, sê as dit nie vir die oplettendheid van sy vrou was nie, was hulle moontlik nie vandag hier om sy storie te deel nie.

“Ek het gery van Nampo af. Ons is so sesuur uit Bothaville op pad na Bloemfontein toe. Tussen Bultfontein en Soetdoring, soos wat ons oor die brug by die rivier ry, het ’n sogenaamde polisievoertuig van agter af gekom en sy hoofligte geflits en sy blou lig aangeskakel. Hy het teen ons gery en weer sy hoofligte geflits, wat ek gevoel het ’n gewone polisievoertuig nooit sou doen nie. Ek het gestop, want ‘n ou moet maar stop. My vrou was reeds ongemaklik daarmee. Ek het die ruit op ’n skrefie oopgemaak. Wat kan jy doen? Dit is die eerste keer dat dit met my gebeur. ’n ‘Polisieman’, geklee in ’n SAPD-weerkaatsbaadjie het vir my gesê my sleepwaentjie se remligte werk nie en hy het gevra ek moet asseblief uitklim. In daardie stadium het ek gesien dat daar vier ‘polisiemanne’ is. My vrou het aan my genoem hulle het gewone oorpakke onder die weerkaatsbaadjies aan. Sy het gesê ons moet wegkom, hierdie is ’n lokval. Dankie tog sy het dit agtergekom. Ek het eenvoudig net vir die ou gesê my ligte makeer niks nie, kry my by die naaste polisiekantoor en ek het weggejaag. Dit was definitief ’n poging tot ’n kaping. Ek weet nie wat moet mens doen nie. Maar die polisie sal ’n ou seker nie saans so direk langs die pad aftrek en konfronteer nie. Ek sal nooit in my lewe weer vir ’n polisievoertuig stop nie. Veral nie saans nie. Ek sal reguit na die naaste polisiekantoor ry.

En ’n ou skrik groot, so ek kan maar net sê wees versigtig, wees bedag. Kyk maar uit. Dit is moeilike tye waarin ons lewe. Ons moet maar net die hele tyd wakker wees. As ek daar uitgeklim het, het ek dalk nie vandag met jou gepraat nie. Ek dink ’n boete is beter as wat hulle jou dalk aanval,” verduidelik die motoris in die voice note.

Konst. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê: “Die polisie het verskeie klagtes ontvang van bloulig-kapings waar motoriste deur mense wat in polisie- en verkeersuniforms geklee is, gestop word. Indien motoriste onveilig voel, moet hulle by ’n vulstasie of by die polisiekantoor stilhou waar daar mense is.”

Maroela Media het in ’n berig op 16 Mei motoriste teen bloulig-kapings in die Sasolburg-omgewing gewaarsku.

Konst. Josephine Rani, woordvoerder van die polisie op Salsolburg, het aan Maroela Media gesê die kapings vind veral op die R57, R59 en R82 plaas. “Motoriste word geteiken deur ʼn onbekende voertuig met blou ligte, met twee of meer manlike of vroulike insittendes, geklee in polisieuniforms of uniforms van verkeersbeamptes. Hulle maan motoriste om stil te hou en steel dan hulle motor of persoonlike besittings (kontant en selfone),” het Rani verduidelik.

Rani het gesê die polisie maan alle padgebruikers om nie stil te hou as iemand met blou ligte of ʼn ongemerkte voertuig probeer om hulle voor te keer nie. “Motoriste word aangeraai om na die naaste polisiestasie te ry en dadelik die polisie te kontak.”

1 thought on “Wees bedag op die langpad, so kaap hulle jou met blou ligte

  1. Ek het dieselfde oorgekom in 2004 naby Gharies – N7 – egte polisievoertuig – nie ‘n privaatvoertuig nie!
    Omdat ek vrou alleen was en dit reeds donker, was ek doodbang om te stop, maar het tog… wetsgehoorsaam grootgemaak!
    Ek het my ruit slegs op ‘n skrefie oopgedraai – 6de sintuig!
    Kamma het my agterligte nie gebrand nie en moes ek uitklim om te kyk.
    Ek het die swart vrou in privaatdrag
    in die polisievoertuig opgemerk en die drywer het vir die konstabel by my venster
    geskree dat hy moet praat as ek moeilik is en hy hulp nodig het.
    Ek het besef dis ‘n lokval en weggejaag… met die Here se genade weggekom.
    My agterligte ondersoek by my aankoms en daar was geen fout met hulle nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: