Werker kritiek gewond tydens ‘huisroof’ op hoewe

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – ‘n Werker genaamd Frans is gisteroggend omstreeks 01:00 op ‘n hoewe in Birdflowerstraat in Boekenhoutkloof in die Kameeldrift-area tydens ‘n huisroof in sy bors geskiet.

AO Johan van Dyk sê die slagoffer het in sy kamer geslaap toe hy gehoor het hoe vensters gebreek word. Hy is in die regterkant van sy bors geskiet, maar daar was geen uitgangswond nie.

Daarna het die drie verdagtes hom na bewering beveel om die kamerdeur oop te maak, waarna ‘n onbekende bedrag kontant, ‘n sweismasjien, ‘n slypmasjien en motorbattery gebuit is.

Die slagoffer kon daarin slaag om die verdagtes te ontglip en is na sy werknemer se huis wat ‘n entjie verder weg is. ‘n Ambulans het hom in ‘n stabiele maar kritieke toestand na Kalafong-hospitaal vervoer.

‘n Leë doppie is op die toneel gevind.

Van Dyk sê nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie, maar die Hercules-polisiestasie ondersoek die huisroof.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.