KWAZULU-NATAL. – Werner de Jager, beskuldigde in die moordsaak van wyle ds. Liezel de Jager, se borgtoguitspraak is weer tot 22 Februarie in die Amanzimtoti-landdroshof uitgestel.
Action Society sal steeds hul siening van “geen borg” handhaaf.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
Twee addisionele moordklagtes van ‘n motorongeluk wat verlede jaar in April buite Koppies in die Vrystaat plaasgevind het kan moontlik teen De Jager by die moordsaak op sy vrou gevoeg word. In die ongeluk het Linda Eales (54) en Berniece Eales (84) hul lewens verloor en nog ‘n persoon is beseer.
‘n Vergadering sal later die week plaasvind om te besluit of die saak van die ongeluk met die huidige saak van ds. Liezel se moord kan saamsmelt.
Ian Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid van Action Society, het self die hofverrigtinge bygewoon. Cameron het deurentyd bywerkings van die hofsaakverrigtinge op sy Facebook-blad gedeel.
Tydens die vorige hofverskyning op 24 Januarie is daar aan die hof voorgehou dat die moord moontlik met voorbedagte rade gepleeg is en die klagte van moord is na skedule 6 verander. Nie net het De Jager vermoedelik oor sy aktiwiteite op die dag van sy vrou se dood gelieg nie; hy het ook probeer om ‘n lewenspolis teen sy oorlede vrou se naam te eis, waarvan hy afgeraai was. Dit het ‘n verdere klag van beweerde bedrog teen hom gebring.
Liezel de Jager is op 13 Oktober 2021 op Amanzimtoti by haar huis vermoor.
Die egpaar het twee jong dogters.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



