GAUTENG. – Vir Demi Labuschagne (11) van Pretoria is dit té laat vir haar laaste wens om vervul te word. Die jong terminale kankerlyer is Sondagaand om 10:30 oorlede.
‘n Gebroke Belinda Labuschagne sê sy is stukkend.
Belinda beskryf Demi as ‘n dogter met die mooiste hart wat almal om haar net gelukkig wou sien. Die gesin is baie heg en Belinda sê Demi was haar en haar pa (oupa van Demi) “se alles.” Demi was met Ewing-sarkoom gediagnoseer en het ook longkanker gehad.
“Sy was alles en my lewe. Ek wens ons kon dit ‘n ander way gehad het en ek wens ek kan haar terugkry, maar ek weet nie wat om daaroor te sê nie.”
Demi se grootste wens van ‘n lys wat nog nie afgehandel was nie, was om see toe te gaan. Die familie was nog in die beplanningsfase vir ‘n besoek aan die see. Dit het egter moeiliker geraak met Demi se gesondheid. Terwyl sy asemnood begin kry het en ook bloed gehoes het, moes daar vir eers net in haar onmiddellike mediese behoeftes voorsien word.
Riana Oberholzer van die Suidkus het probeer help om Demi se laaste wens waar te maak deur spesiale reëlings te help tref. Sy sê aan FiND iT sy was die grootste gedeelte van die nag met Belinda op die telefoon en haar hart is stukkend oor die afsterwe van Demi vir wie sy nog Maandagoggend seewater en sand per oornagkoerier wou stuur.
“My hart is so seer. Ons het dit nie betyds gemaak om haar die see te wys nie. Maar ek het verlede week vir haar video’s gaan neem van al die plekke wat sy wou sien en dinge doen. Maar nie ons tyd nie…God se tyd.”
FiND iT het voorheen soos volg berig:
Demi Labuschagne (11) het hulp nodig om die laaste item op haar wenslysie te vervul. Die jong meisie is aan die einde van 2022 met Ewing-sarkoom in haar knie gediagnoseer. Kanker het egter nou na haar longe versprei en volgens dokters kan daar menslik niks meer vir haar gedoen word nie en is sy terminaal siek.
Belinda Labuschagne verduidelik Demi het eendag haar knie teen ‘n kragboks gestamp en herhaaldelik daarna by die skool op dieselfde knie geval. Omdat die swelling nie gesak het nie, is sy na ‘n dokter in Waverley geneem wat ‘n skandering aanbeveel het en tot die diagnose van Ewing-sarkoma gekom het.
Demi is in die Groote Schuur-hospitaal in die Wes-Kaap geopereer en het chemoterapie by Steve Biko- akademiese hospitaal ontvang. Die jongste toetse van SBAH het egter geen goeie nuus ingehou nie.
Demi se ouma is ook aan kanker oorlede. Alhoewel Demi voorheen ‘n leerder van Laerskool Mayville was, is sy nie weer terug skool toe nie, maar tuis.
“Sy gebruik geen medikasie nie en ons probeer haar net gemaklik hou. Ek het wel kruiemedisyne aangeskaf om te kyk of dit haar nie sal help nie.”
Belinda sê voorts hulle gaan nie net opgee nie en is op soek na nog ‘n mening en gaan ook die uitslae van die MR-skandering na Groote Schuur-hospitaal stuur om te kyk of daar nie iewers ‘n dokter is wat hulle dalk kan help om haar lewe te red nie.
“Ons gaan nie opgee nie. Ek kan haar nie verloor nie.”
As gesin probeer hulle net om Demi se tyd wat nog saam met hulle gegun word iets te maak om te onthou. Demi het ‘n wenslysie opgestel, waarvan heelwat al afgemerk is, maar die laaste wens is om by die see vir ‘n vakansie uit te kom. Kyk jy na die Demi vs Cancer Facebook-blad kan jy die wense wat reeds bewaarheid is, sien – van die Chinese dumplings waarvan sy nie veel gehou het nie, ‘n dag by Gold Reef City, ‘n meisiedag en ‘n tablet wat sy gekry het – en vele meer. Verskeie mense het gehelp om hierdie jong dogter se hartswense tot vervulling te bring.
‘n Engel van ‘n weldoener, Riana Oberholzer van die Suidkus, het met FiND iT kontak gemaak en noem dat sy ‘n week se gratis verblyf vir Demi en haar gesin in Margate gereël het, ‘n gratis dag by Wild Coast Sun se speletjies-arkade, ‘n dag by ‘n waterpark, asook ‘n dag by ‘n vlinderplaas. Al wat kortkom, is om die gesin daar te kry en etes te voorsien.
Die rede waarom Riana so graag vir Demi wil help, is omdat haar eie kleindogter (3) ook kanker het en sy voel die kinders is siek met kanker terwyl hulle nog nie eers verlief kon raak of selfs ‘n matriekafskeidrok kon aantrek nie.
Die vakansie word vir einde Februarie beplan, maar Belinda sê dit moet ook te verstane so gou as doenlik gebeur en vra vir gebede vir die moedige dogter wat teen kanker veg.
https://www.backabuddy.co.za/demi-labuschagne-5500349675414767150
Demi het onlangs bloed begin hoes, maar haar gesin bly positief in die hoop vir hulp aan haar.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.



