Vroue weer ‘gewapende aanvallers’ af

Deel hierdie storie / Share this story

KWAZULU-NATAL. – Twee vroulike voetgangers het Woensdagmiddag twee beweerde gewapende aanvallers op die R102, Phoenix-hoofweg-afrit, afgeweer.

Reaction Unit South Africa sê ‘n verbyganger wat ‘n bloeiende vrou (25) langs die pad gesien het, het die operasionele sentrum net na 17:00 gebel. Op die toneel is vasgestel twee vroue is na bewering deur twee verdagtes genader en met ‘n vuurwapen en mes gedreig toe hulle langs die pad gestap het. Die verdagtes het glo persoonlike eiendom geëis. Die vroue, wat geweier het om hulle besittings te oorhandig, het teen die twee verdagtes baklei.

Tydens die struweling het een van die verdagtes ‘n nagemaakte pistool laat val terwyl sy makker glo een van die vroue in haar arm en been met ‘n skerp voorwerp gesteek het. Die verdagtes moes sonder buit van die toneel vlug.

Die beseerde vrou is op die toneel deur nooddienste behandel terwyl die ander vrou (24) geen beserings opgedoen het nie.

Bron: Reaction Unit South Africa

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.